
Liesel le Roux
Oudtshoorn se middedorp is voorwaar onder beleg.
Daar kan by niemand meer twyfel wees dat straatkindterreur die botoon voer in die middedorp nie en niemand klaarblyklik in staat is om iets daaraan te doen nie.
En dié kinders weet dit – hulle beskou hulle in ’n groot mate as onaantasbaar.
Hulle is betrokke by dwelmmisbruik, diefstal, aanranding.
En dit vererger daagliks. Dit benadeel inwoners. Dit benadeel ook een van die dorp se grootste bronne van inkomste – toerisme. Daar word jare lank al oor die dorp se straatkinders gepraat en gepraat . Vergadering na vergadering is dit ’n besprekingspunt op agendas.
Toegegee – daar is baie redes en verduidelikings en wetgewing wat optrede teen kinders (en hopelik ter- selfdertyd tot hul voordeel) verhinder.
Maar tog hoor ’n mens soms van suksesverhale elders, waar met harde werk en toewyding en beslistheid wel ’n verskil in die kinders se lewens gemaak word en dorpe en stede en gemeenskappe as gevolg daarvan baat.
Want ons moet onthou – ons praat van kinders – ons naaste wat deur die volwassenes van ’n gemeenskap gelei en versorg moet word.
Wat sê dit van ’n gemeenskap as sy kinders nie speel en lag soos kinders moet nie, maar op straat leef en ’n lewe van misdadigheid voer?
Dit help nie om die kinders te vloek en te skel en te dreig of oor hulle te kla nie. Nie een van daardie dinge gaan enigiets aan die situasie verander nie.
Daar sal daadwerklik opgetree moet word – deur die polisie, deur maatskaplike organisasies, deur die munisipaliteit. En deur inwoners.
Een maklike praktiese manier is om dadelik ’n klag te gaan indien by die polisie as jy aangerand of besteel is deur ’n straatkind sodat misdade waarby hulle betrokke is, ondersoek kan word.
Tweedens is om jouself op hoogte te bring van feite en wetgewing en nie saam te koor met mense wat onwerkbare of onwettige oplossings vra nie – soos dat die kinders na kinderhuise (wat nie bestaan nie) moet gaan. Of dat die kinders aangerand moet word om hulle ’n les te leer nie.
Straatkinders is dwarsdeur Suid-Afrika en ook elders in die wêreld ’n probleem, maar net so is daar – ten spyte van beperkende wetgewing – al plekke waar sukses behaal is om die kinders van die straat af te kry.
Oudtshoorn sal na oplossings moet soek eerder as skuil agter verskonings en struikelblokke.
’n Mens kan sommer op Google begin – daar is suksesverhale, maar in die meeste gevalle is dit omdat daar mense was wat bereid was, kundig genoeg was en omgegee het om op te tree.