• Man en vrou albei lang vonnisse opgelê
Deur Garnett Wicomb
’N MAN en ’n vrou van Gauteng wat bykans twee jaar gelede op die N1 buite Beaufort-Wes met Mandraxpoeier ter waarde van meer as R139 000 in hul besit in hegtenis geneem is, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof albei lang vonnisse opgelê nadat hulle besluit het om skuldig te pleit.
Richard Tshirando (60) en Beverley Manco (40), was sedert hul inhegtenisneming op 17 Maart 2016 in aanhouding.
Tshirando is deur streeklanddros Retha Pretorius skuldig bevind aan handeldryf in dwelms en tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit of om ’n dranklisensie te bekom.
Manco is vir die besit van dwelms gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf waaarvan vier jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Tshirando en Manco is skudig bevind aan ernstige misdrywe wat tans hoogty vier en dat dwelms bydra tot ernstige misdade en ’n vernietigende impak op veral die jeug het.
Die hof het ook gelas dat die dwelms aan die staat verbeurd verklaar word.