Deur Garnett Wicomb
’N SOLDAAT van Mthatha is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind en ’n stywe boete en opgeskorte vonnis opgelê.
Die 29-jarige Mosonwabe Mzimane was in 2015 vir ’n kursus op Oudtshoorn toe hy gevra is om saam met twee kollegas na ’n begrafnis op George te gaan.
Met hul terugkeer is hy deur die eienaar van die voertuig gevra om terug te bestuur omdat laasgenoemde glo nie nugter was nie.
Mzimane het op ’n skerp draai net buite Oudtshoorn beheer oor die voertuig verloor waarna dit die pad verlaat, ’n rotswand getref en omgeslaan het.
Die eienaar van die voertuig is in die ongeluk dood en Mzimane en ’n ander kollega het geringe beserings opgedoen.
Mzimane se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, het die hof gevra om vir vonnisdoeleindes in ag te neem dat hy ’n eerste oortreder is en skuldig gepleit het. Dit was donker en hy het ook nie die pad geken nie.
Hy het die hof ook versoek om nie Mzimane se bestuurslisense in te trek nie omdat hy dit vir sy werk benodig.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het die hof versoek om in ag te neem dat ’n persoon sy lewe verloor en die erns en gevolge van die misdryf nie onderskat moet word nie.
Landdros Roelf Konstabel het met vonnisoplgging gesê Mzimane is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind, maar die vertoë van sy regsverteenwoordiger in ag geneem.
Die landdros het beklemtoon dat om ’n eerste oortreder te wees nie beteken dat ’n persoon nie tronk toe gestuur kan word nie.
Mzimane is ’n boete van R4 000 of ses maande gevangenisstraf opgelê en ’n verdere twee jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.