
Verdediging nie gelukkig met onduidelike foto’s
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n skoolhoof van ’n primêre skool in die Oudtshoorn-distrik is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir verhoor tot Oktobermaand uitgestel.
Die skoolhoof staan tereg op ’n aanklag van verkragting. Die 54-jarige beskuldigde is nog nie gevra om te pleit nie.
Hy is op 20 Maart vanjaar borgtog van R2 000 toegestaan nadat landdros Roelf Konstabel dit in belang van geregtigheid bevind het.
Waarnemende streeklanddros LK Wilkens het op versoek van die staatsaanklaer, Willem Vister, die saak tot 2 Oktober uitgestel.
Die eerste staatsgetuie kon nie Dinsdag by die hof wees nie terwyl die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, ook nie gelukkig was met onduidelike foto’s wat in ’n laat stadium aan die verdediging beskikbaar gestel is nie.
Die beweerde verkragting het volgens die klagstaat op 9 Februarie vanjaar in Meiringspoort plaasgevind. Die klaer is ’n 47-jarige vrou wat op De Rust woonagtig is.