’n Groep van die Hoërskool Oudtshoorn se matrieks van 1973 het die afgelope naweek ’n reünie gehou. Diegene wat daar was, is voor van links Muller Klopper, Charmaine Arpin (nou Van Wyk ), Jaconel Boshoff (nou Vermaak), Les Strydom, Leslie Terblanche en Deon van Mollendorff, middel Loftie Ellis, Christo Saayman, Erma Mostert (nou Uys) en Piet Fourie, en agter Kitto Muller, Maritz van Heerden en Stephen Muller.
’N GROEP van 1973 se matrieks van die Hoër-skool Oudtshoorn het van Vrydag tot Sondag (16 tot 18 Junie) ’n reünie op Oudtshoorn gehou. Dié oud-Struisies, was die eerste groep wat vanaf standerd 6 (graad 8) tot matriek in die huidige skoolgebou skoolgegaan het.
Benewens ’n besoek Saterdagoggend aan hul ou skool, het die groep hoofsaaklik reünie gehou by Buffelsdrift Game Lodge waar hulle ook na die toets tussen die Springbokke en Frankryk gekyk.
Die groep het elke dag saam ontbyt geniet en saans is ’n vertrek tot hul beskikking gestel waar hulle saam gekuier en geëet het, en stories van lief en leed uit hul skooldae opgediep het.
Onder die groep is ’n tandarts, ’n mediese dokter en superintendent, ’n dominee, sakemense, onderwysers, ’n regsgeleerde, ’n wynkundige wat ook ’n universiteitslektor was, finansiële adviseurs en ’n eiendomsontwikkelaar. Sommige van hulle het reeds uit- of afgetree.
Die groep beoog om weer ’n reünie te reël vir 2020 en dan die “Groot 50”-reünie in 2023.
• Benewens die 1973-matrieks op die foto is die reünie ook bygewoon deur Pieter Rossouw, wat vanaf Mauritius gereis het om dit by te woon, Derek Gavin en Gert van der Walt.