• Uit die Oudtshoorn Landdroshof
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n Nigeriese burger wat tereg staan op klagtes van handeldryf in en die besit van dwelms ter waarde van sowat R3,6 miljoen, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende jaar uitgestel.
Landdros Lorraine Samuels het vroeër vanjaar borgtog aan die verdagte, Samuel Orama, geweier omdat sy van mening is dit nie in belang van geregtigheid is nie omdat hy moontlik kan vlug.
Die ondersoekbeampte, Ao Jacobus Groenewald, het Orama se borgaansoek teengestaan terwyl sy regs- verteenwoordiger, Thelishia Piedt, versoek het dat borgtog wel toegestaan moet word omdat die beskuldigde oor ’n vaste adres en werk beskik en nie ’n vlugrisiko is nie.
Volgens Groenewald het Orama probeer weghardloop toe die dwelms in ’n rooi sak wat aan hom behoort het, gevind is.
Die klagtes teen drie mans wat saam met Orama in hegtenis geneem is, is later deur die staat teruggetrek omdat hulle volgens hom niks met die saak te doen het nie.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het die saak as gevolg van ’n vol hofprogram vir verhoor tot 31 Januarie 2018 uitgestel.