Orian Roberts. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 34-jarige Orian Roberts van Dwarsrivier, Ladismith, wat na bewering boere met die dood gedreig het, is Sondag omstreeks 09:30 deur die Ladismith Polisie in hegtenis geneem.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is die omgewing van Dwarsrivier sedert Dinsdag (14 November) gefynkam en die soektog Sondag in Dankoord voortgesit. Roberts is in ’n verlate huis opgespoor.
Cederas het aan Die Hoorn ’n skermgreep van ’n boodskap op die Facebook-groep, Ladismith, CBL, my dorp, gestuur waarin beweer word dat Roberts boere dreig.
Cederas sê Roberts word aangekla vir die weiering om aan sy paroolvoorwaardes te voldoen, aanranding en die besit van gesteelde goedere. Die polisie vermoed goedere wat by hom gevind is, is gesteel. Dit sluit ’n verkyker, gasstoof, potte, kampstoele, komberse, radio en kassetspeler en ’n gereedskapsboks in. Hy het Dinsdag in die Ladismith Landdroshof verskyn.