• Nigeriese burger vra toestemming om na buiteland te reis tydens verhoor
Deur Garnett Wicomb
’N NIGERIESE burger wat van handeldryf in dwelms aangekla word en vroeër borgtog van R20 000 toegestaan is, het in die Oudtshoorn Streekhof verlof gekry om vir die begrafnis van sy oorlede pa na Nigerië te gaan.
“Indien u nie terugkom nie, het ek vandag ’n baie groot fout begaan,” het streeklanddros Mark van Wyngaardt aan Hilary Anyaneto gesê nadat hy sy aansoek toegestaan het.
Anyaneto word saam met ’n vrou, Lorraine Mwantachitiya, aangekla van handeldryf in dwelms.
Hulle is buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem met 70 kg tik en 5 kg kokaïen ter waarde van sowat R22 miljoen in hul motor.
Die aansoek is deur die staatsaanklaer, Hyron Goulding, sowel as die ondersoekbeampte, kapt Andries Spies, teengestaan omdat Anyaneto waarskynlik nie weer terug sal keer nie.
Die hof het egter beslis dat Anyaneto se paspoort aan hom teruggee word en die saak is vir verhoor tot 27 Februarie 2018 uitgestel.
Sy mede-beskuldigde bly in aanhouding.