Marilize Nortier: Saak in Februarie in hof

Marilize Nortier

DIE verhoor van Sidney Berry (25) is tot 8 Februarie 2023 uitgestel. Berry, van Groot-Brakrivier, was die bestuurder van die motor waarin ’n matriekleerder, Marilize Nortier (18) van Oudts­hoorn, in 2019 gesterf het.

Berry staan tereg op klagtes van strafbare manslag en versuim om hulp op ’n ongelukstoneel te verleen.

Hy pleit onskuldig.

Die verhoor word voortgesit nadat ’n ontslag-aansoek van Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, deur landdros Vaughn Shone van die hand gewys is.

Bans het vir sy kliënt se ontslag gevra omdat hy van mening was dat die staat nie genoegsame getuienis voor die hof gebring het om hom skuldig te bevind nie.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die aansoek egter teengestaan omdat die staat ’n sterk prima facie-saak teen die beskuldigde het wat tot sy moontlike skuldigbevinding kan lei. (Deur Garnett Wicomb)