10 getuies in hofsaak na 3 in botsing sterf

Die wrak van die Polo waarin drie jong mans in 2020 op die De Rust-pad gesterf het.

DIE saak teen Xavier Arends (24), die bestuurder van ’n motor waarin drie jong mans op 13 Julie 2020 gesterf het, is tot 13 April 2023 uitgestel.

Xavier Arends (24) staan tereg op drie aanklagte van strafbare manslag nadat die motor wat hy bestuur het op die De Rust-pad, sowat 5 km buite Oudtshoorn, die pad verlaat en gerol het.

Die drie mans, Chandre Nortje (18), Jacques Prinsloo (26) en Bertram Michaels (22), het aan hul beserings beswyk, terwyl Arends self ook erns­tige beserings opgedoen het.

Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, sal die staat moontlik tien getuies roep om in die saak te getuig.

Streeklanddros Ntsoki Moni het Arends om verskoning gevra vir die onvermydelike uitstel. (Deur Garnett Wicomb)