

DIE taxi-staanplek op Dysselsdorp is verwaarloos, besmet met menslike ontlasting, ’n hool vir dwelmmisbruikers, het geen vensters of deure meer nie en is onbruikbaar vir inwoners, taxi-eienaars en -bestuurders van die omgewing, sê rolspelers in die bedryf.
Volgens Heinrich Tarentaal, voorsitter van die Swartberg Taxi-vereniging, is hierdie staanplek van kardinale belang vir die dorp, maar in sy huidige toestand kan niemand dit meer gebruik nie. Hy sê hulle poog al jare lank om met die Oudtshoorn Munisipaliteit te skakel om die situasie te beredder.
“Op die oomblik is hierdie taxi-staanplek nie leefbaar nie, en dit is nie geskik vir mense om hier te beweeg nie. Selfs die deurkosyne en vensterrame is uitgesteel. Al wat nog bruikbaar is, is die afdakke waaronder die voertuie staan,” het hy onlangs aan Die Hoorn vertel.
Tarentaal sê dat die gebou eens op ’n tyd selfs kantoorspasie gehad het waar bestuurders en eienaars van taxi’s kon vergader, “maar daar is nou gee0n manier hoe ons hierdie gebou kan gebruik nie,” het hy gemaan.
Hy sê dat die gebou in ’n stadium oor al die nodige fasiliteite beskik het, selfs toilette vir taxigebruikers, maar sou is selfs die toilette en wasbakke – pype ingesluit, óf vernietig, óf gesteel.
“Dit was pragtig, dit was netjies, alles was heel! Die gebou behoort wel aan die Departement van Vervoer, maar die Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n verantwoordelikheid om dit te onderhou. Ek weet nie eintlik hoe daar toegelaat is dat die gebou so gevandaliseer word nie. Ek was al in kontak met die munisipaliteit, en het gevra dat ons moet saamwerk of dat die vereniging die staanplek oorneem. Ek was ook al selfs in kontak met die plaaslike polisie en die GPF (gemeenskapspolisiëringsforum). Ons het sake geopen en alles, maar die munisipaliteit neem nie verantwoordelikheid nie.”
Volgens Tarentaal het hy reeds in Januarie 2022 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig en tesame met ’n voorlegging oorhandig. In die voorlegging stel die Swartberg Taxi-vereniging voor dat dié organisasie die staanplek se bestuur oorneem.
“Ons was selfs bereid om deur die nag toesig te hou oor die plek, maar tot op hede het ons nog geen terugvoer ontvang nie. Die oorblywende deel van die heining wat hier was, is deur die Munisipaliteit self afgehaal,” vertel hy.
“Ons is raad-op! Dit belemmer en bemoeilik ons besighede om ’n behoorlike taxi-diens te lewer, op ’n veilige en effektiewe manier. Selfs nie eens die langafstand-dienste wil meer hier stop nie,” sê hy.
Inwoners word aan die einde van die dag benadeel, voeg hy by.
Arnold Petersen, hoof van die Cape Organisation for the Democratic Taxi Association (CODETA) in George, beaam Tarentaal se menings en standpunt. Die Swartberg Taxi-vereniging is by CODETA geaffilieer.
“Ons staan hulle altyd by met hierdie tipe situasies en probleme. Een van ons take is om na ons takke om te sien, en ons help hulle met verskeie aspekte in die bedryf. Die toestand van hierdie staanplek is pateties. Jy sien hoe lyk dit hier. Waar ons werk, byvoorbeeld in George, maak die munisipaliteit seker die plek is skoon. Daar is toiletfasiliteite en water vir almal wat publieke vervoer gebruik. Dis ’n hartseer saak hier,” sê hy.
Die Hoorn het reeds in November 2022 navrae oor die situasie by die Dysselsdorp-taxistaanplek aan die munisipaliteit gestuur. Tot op hede is geen terugvoer ontvang nie. Volgens ’n munisipale woordvoerder is die munisipale bestuurder tans besig om aandag aan die kwessie te gee, en Die Hoorn sal ’n opvolgberig plaas sodra ’n verklaring uitgereik word.