Borgtog wel toegestaan vir man wat van hof wegbly

BORGTOG VAN R1 000 is verlede Donderdag (5 Januarie 2023) in die Oudtshoorn Landdroshof aan Aubin Botha (20), ’n jong man van Oudtshoorn, toegestaan.

Botha word van opsetlike saakebeskadiging aan­gekla nadat hy ses vensters ter waarde van R300 stukkend gegooi het, en ook skade van R600 aan ’n voordeur van Mietjie Oktober aangerig het.

Hy is in hegtenis geneem nadat hy ’n beskermingsbevel verontagsaam het, en op vier geleent-hede nie vir sy saak by die hof opgedaag het nie.

Borg is nie deur staatsaanklaer, Steve Dyssel, teengestaan nie en landdros Stephanie Strydom het aan Botha gesê indien hy nie weggebly het van die hof nie, die saak lankal klaar kon wees.

Strydom het borgtog aan Botha toegestaan en verduidelik die doel daarvan is om die teenwoordigheid van die beskuldigde in die hof te verseker.

“Dit is duidelik dat die beskuldigde nie na sy ma luister nie, en ’n duisend rand is baie geld, maar die beskuldigde of die mense wat dit vir hom betaal, kry dit terug indien die beskuldigde gereeld vir sy saak hof toe kom,” het die landdros gesê.

Die saak is tot 19 Januarie 2023 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)