
DIE HOORN het in 2022, soos elke jaar sedert Januarie 2001, ’n verskeidenheid stories gedek wat die Klein Karoo-gemeenskap laat lag én huil het, opgewonde én woedend gemaak het, of bloot net regop laat sit het. Hetsy soet of suur, dit het ’n impak op ons lesers gehad.
Van ons belangrikste voorblaaie van die jaar word hierbo en onder uiteengesit. Ons gee graag vir ons lesers ’n opsomming van hierdie stories, bo van links, en dan onder van links.
27 Januarie
Na die 2021-matriekeindeksamen was ons streek se matrieks onder die top 10 in die land met van die toppresteerders van die Hoërskool Oudtshoorn, en so ook Lillani Nel van Langenhoven Gimnasium, wat op die voorblad gepryk het.
Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2022 het ’n ander formaat gekry as gevolg van die nasionale Covid-19-regulasies.
24 Februarie
’n Geheime maandelange ondersoek na leerling- en bestuurderslisensiebedrog – so geheim dat niemand by die munisipaliteit daaroor ingelig was nie – het in Februarie gelei tot die inhegtenisneming van 11 mense tussen die ouderdomme van 34 en 61 jaar oud.
Die saak teen die 11 verdagtes, onder wie perso-neellede van die Oudtshoorn Verkeersdepartement en die bestuurder en personeel van ’n plaaslike bestuurskool, is en word steeds in die Oudtshoorn Landdroshof verhoor.
3 Maart
Met die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne wat uitgebreek het, het die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die Oekraïne wat gereeld in die nuus op Suid-Afrikaanse radiostasies, TV-nuusdienste en in koerante was, André Groenewald – ’n oud-Struisie wat in 1985 aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer het – die voorblad gehaal.
Politieke spanning en ’n krimpende regerende koalisie op Oudtshoorn was toe ook ’n groot besprekingspunt.
28 Julie
Getuienis van ’n plaasbestuurder, Japie Pot- gieter, in die verhoor van Sidney Berry (27) van Groot Brakrivier, is voortgesit. Berry was die bestuurder van die motor waarin ’n jong Oudtshoorniet, Marilize Nortier (18), die aand van 22 September 2019 in ’n sloot met water langs die Kango Grottepad gesterf het. Hierdie saak duur steeds voort.
4 Augustus
’n Besige week op Oudtshoorn! Goed en sleg.
Drankdiewe het laatnag toegeslaan in die dorp, met ’n inbraak by Tops @ Wilck Spar in Kerkstraat; ’n man het vroeër daardie week na bewering in ’n wit Nissan-bakkie weggery sonder om te betaal vir die R500 se brandstof wat hy by die Total-vulstasie op die hoek van Voortrekker- en Jan van Riebeeckweg op Oudtshoorn, ingegooi het, en is die volgende aand vasgetrek nadat hy met dieselfde bakkie in ’n voertuig vasgery het; en oud-Oudtshoorniet Talya Davidoff het aan die vryduikkompetisie Vertical Blue in die Bahamas deelgeneem en kontinentale rekords laat spat!
27 Oktober
Twee voormalige amptenare van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, is in die Hooggeregshof van Suid-Afrika in Thembalethu, George, opdrag gegee om miljoene rande aan die munisipaliteit terug te betaal. Regter NC Erasmus het bevind dat Ronnie Lottering, ’n voormalige waarnemende munisipale bestuurder, en Lionel Prins aanspreeklik was vir ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose uitgawes van miljoene by die munisipaliteit.