Deur Garnett Wicomb
’n Man met ’n lang lys vorige veroordelings is in die Oudtshoorn streekhof sewe jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van huisbraak met die opset om te steel asook diefstal.
Chad Topley (22) is saam met vier ander verdagtes, Jonathan Manuel, Soheil Hufke, Shanton Carelse en Busisiwa Hanse, aangekla dat hulle op 18 Januarie én op 26 Januarie vanjaar by Queen Zebra in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn ingebreek en vyf duur volstruisleerhandsakke ter waarde van sowat R150 000 gesteel het.Vier van die handsakke is deur die polisie teruggevind.
Topley het skuldig gepleit.
Die klagtes teen sy medebeskuldigdes is teruggetrek nadat hy ’n bekentenis gemaak het dat hy alleen by die inbrake betrokke was.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra en gesê Topley het geen ander keuse gehad as om skuldig te pleit nie. “Die staat het nie enige bewyse dat die ander vier verdagtes by die misdaad betrokke was nie,” het sy gesê.
Topley se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof vir ’n gedeeltelik opgekorte vonnis gevra omdat Topley nie die hof se tyd gemors het nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê hoewel dit duidelik is dat meer mense by die inbrake betrokke moes wees, Topley besluit het om alleen man te staan en hy dan ook mans genoeg moet wees om die pak te vat.
“Inbrake by besighede is ’n groot bron van kommer en in baie gevalle straf eienaars self die skuldiges en neem die reg in eie hande. Hulle moet groot uitgawes aangaan om hul eiendom te beskerm en die gemeenskap roep luidkeels uit vir gepaste vonnisse.
“U straf eintlik u eie gemeenskap deurdat werkers dikwels afgedank word en die dorp se ekonomie ook daaronder ly,” het die landdros aan Topley gesê.
Volgens Boks het Topley nie geleenthede wat hom gebied is benut om te rehabiliteer nie en werk sy vorige veroordelings verswarend in op die vonnis.
Topley is effektief tot vyf en ’n half jaar tronkstraf gevonnis. Bok het hom vier jaar tronkstraf opgelê op die eerste aanklag en drie jaar op die tweede, waarvan die helfte samelopend met die vier jaar uitgedien kan word.
Topley is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en indirek gewaarsku dat hy ’n volgende keer tot gewoontemisdadiger verklaar kan word.