Man in hof vir wrede moord op saamleefmaat

Deur Garnett Wicomb
DIE saamleefmaat van ’n vrou wat die naweek wreed vermoor is, het Dinsdag vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn. Die saak is vir ’n formele borgaansoek tot 2 Mei uitgestel.
Audrey Ntombozuku (34) is glo Saterdagaand met klippe en ander voorwerpe geslaan waarna haar liggaam in ’n kanaal naby Bongolethu gegooi is. Na bewering het bure die geslanery gehoor en die vrou se ouers gaan roep. Hulle het toe die halfnaakte liggaam van haar in die kanaal gekry terwyl haar saamleefmaat, Solomons, nog in die nabyheid was.

Solomons se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof versoek om te gelas dat hy die hospitaalafdeling van die gevangenis aan­gehou word na ’n beweerde voorval wat in die tronk plaasgevind het.

Landdros Lorraine Samuels het egter gesê dat sy nie by magte is om so ’n bevel uit te reik nie en Metembo gevra om die aangelentheid met kor­rektiewe dienste op te neem.

• Daar was drama buite die hofsaal toe die moeder van die oorledene inmekaargesak en ’n ambulans ontbied moes word.

Sy het egter tot so ’n mate herstel dat sy met die hulp van haar eggenoot tot by die ambulans kon stap.