KKNK 2017: Teaterverkope groei met 6%


Baron van Reedestraat tydens vanjaar se KKNK. Foto: Liesel le Roux

Baron van Reedestraat tydens vanjaar se KKNK. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
POSITIEWE terugvoer stroom in oor veral die Uitkampteater, Speelbos by Arbeidsgenot (die kinderprogram) en die kwaliteit van die teaterproduksies by vanjaar se KKNK op Oudtshoorn, sê die uitvoerende hoof van die fees, Rhodé Snyman.

Snyman het op navraag van Die Hoorn gesê hierdie elemente was van die groot suksesse by vanjaar se fees.

“Ons het ook daarin geslaag om waarde vir geld aan te bied: veral in die Rivierbuurt, waar feesgangers vanjaar die aandkonserte op die koop toe ingesluit gekry het by die koste van ’n dagkaartjie.”
’n Dagkaartjie na die Rivierbuurt het R50 gekos en ’n weekkaartjie R250.

Snyman sê kaartjieverkope na tea­terproduksies en die Uitkampteater het vanjaar goed toegeneem. Daar is ses persent meer kaartjies na teatervertonings verkoop as verlede jaar, terwyl die kaartjieverkope van Uitkampteaterproduksies meer as verdubbel het sedert 2016.

Sy sê die KKNK wag nog op finale syfers van Computicket oor die ver­kope van kaartjies na die Rivierbuurt.

“Bywoning in Baron van Ree­destraat word nie gemeet nie, omdat dit ’n gratis gebied was. Met die oog gemeet, was bywoning goed en die warm ontvangs wat Evita Bezuidenhout gekry het toe sy die Vryheid van die Dorp ontvang het, was ook ’n riem onder die hart.”

Op ’n vraag van Die Hoorn of daar vanjaar enige lesse te leer was vir die toekoms, het Snyman gesê dat dit uit terugvoer nodig is om die program vir die groot verhoog in die Rivier­buurt te “verfyn”, maar ook dat ’n ini­siatief nodig is om die welwil­- lendheid van besighede wat afslag aan besoekers bied, te beklemtoon.

“Ongelukkig hoor ons gewoonlik net van diegene wat hul pryse laai. Die huidige ekonomiese klimaat maak goeie waarde vir geld al hoe meer noodsaaklik en die hele dorp kan ’n rol hierin speel.”

Snyman het gesê daar is baie rolspelers wat ’n dankie na die fees verdien. “Elke rolspeler betrokke by die KKNK verdien lof: van die kunstenaars vir uitmuntende programmateriaal; feesgangers wat kaartjies ge­- koop het; Oudtshoorniete wat besoekers gasvry ontvang het; die me­dia, ons personeel, verskaffers en bor­ge, sonder wie se mildelike bydraes hierdie fees totaal onmoontlik sal wees.”