Drie in hof vir roof

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen drie mans van Calitzdorp wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is einde September in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere getuienis tot volgende maand uitgestel.

Henrico Lindt, Flip Abrahams en Malcolm Windvogel word daarvan aangekla dat hulle die aand van 27 September 2014 twee broers beroof en die een met ’n mes gesteek het.

Christo Pockpas het verlede week getuig dat die drie verdagtes hom van sy beursie met R400 daarin beroof het en sy broer met ’n mes gesteek en van ’n onbekende bedrag geld beroof het.

Malcolm Windvogel, ’n goeie vriend van hom, het hom ’n paar dae later om verskoning gevra.

Volgens Pockpas was hy en sy meisie in sy blyplek op die erf van sy ma toe die drie die aand by hulle aangekom het.

Hy het vertel hoedat hulle sy voete onder hom uitgeskop het en terwyl hy op die grond gelê het, van sy beursie en geld beroof het.

Daarna is hulle na die blyplek van sy broer waar hy b­­­esig was om kos te kook.

Dit was toe dat sy broer met ’n mes gesteek en van ’n onbekende bedrag geld beroof is.

Volgens Pockpas het Windvogel, ’n goeie vriend van hom, hom aanbeveel om liewer weg te hardloop voordat hy ook gesteek word.

Hy het gevlug en is na sy tante wat die polisie gebel het. Met die aankoms van die polisie was die drie beskuldigdes reeds weg.

Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir verdere verhoor tot 9 November uitgestel.