Bylmoordenaar (63) kry 11 jaar

Landdroshof-Oudtshoorn-300x214
Deur Garnett Wicomb
’N 63-JARIGE man wat sy seun ver­skeie kere met ’n byl gekap het, is in die Oudtshoorn Streekhof vir elf jaar tronk toe gestuur nadat hy skuldig bevind is aan moord en aanranding om ernstig te beseer.
Vaaltyn May (40) het op 28 Februarie 2015 weens bloedverlies gesterf nadat hy deur sy pa, Ben Murphy, drie keer met ’n byl gekap is. Murphy het gesê hy wou sy seun ’n les leer.

’n Vrou is ook met dieselfde byl raakgekap.

Murphy het onskuldig gepleit op die aanklag van moord, maar wel skuldig op ’n alternatiewe aanklag van strafbare manslag omdat hy nie bedoel het om moord te pleeg nie.
Hy het getuig dat hoewel hy onder die invloed van drank was hy geweet het wat hy doen. Hy is verskeie kere in die verlede deur sy seun aangerand en wou hom die betrokke dag laat voel “hoe hy my seergemaak het”.

Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof egter gevra om Murphy aan moord skuldig te bevind en ge­vangenisstraf op te lê. Vister het gesê Murphy was nie eerlik met die hof nie en het probeer om die blaam te verskuif.

Volgens ’n getuie het die oorledene nie die moeilikheid begin nie, maar wou hy tussenbeide tree toe sy pa Leah Swartbooi wou kap.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het in sy uitspraak gesê ’n persoon is nie ’n stuk hout wat jy met ’n skerp byl kan opkap nie.

Hy het Murphy se hoë ouderdom vir vonnisoplegging in ag geneem en gesê dat hy hom nie ’n vonnis wil oplê wat hy nie kan klaarmaak nie.

Murphy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.