Deur Garnett Wicomb
BORGTOG is Maandag in die Oudtshoorn Distrikshof vir die tweede keer geweier aan ’n Mo-sambiekse burger wat in 2015 saam met ’n Nigeriër naby Beaufort-Wes in hegtenis geneem is.
Tik van meer as R27 miljoen is in hul motor gevind.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof versoek om borgtog aan Benjamin Amalukwe te weier terwyl sy regsverteenwoordiger, Ben Mathewsen, gevra het dat borgtog in belang van geregtigheid wel toegestaan behoort te word.
Kol Johan Smith, hoof van die Wes-Kaapse Narkotikadepartement van die Polisie, het getuig dat Amalukwe nie oor ’n vaste adres beskik nie, sy getuienis aanpas en moontlik kan vlug.
Amalukwe het ’n tweede poging aangewend om borgtog te kry.
Die verhoor van Amalukwe en sy mede-beskuldigde, Nelson Matavela, is deur wyle streeklanddros Mark van Wyngaardt aangehoor en uitspraak sou in Desember verlede jaar gelewer word.
Die dood van die die landdros het egter daartoe gelei dat nuwe klagstate opgestel word en die saak van voor af sal begin.
Matavela het sy borgaansoekplanne laat vaar.
Landdros David Lackey van Kaapstad het Maandag borgtog aan Amalukwe geweier.
Hy het die saak voorlopig vir ’n streekhofdatum tot 4 Junie uitgestel.