Rolbalkampioenskap vir gestremde persone op Oudtshoorn

BowlsKitty-1024x768
Deur Higgo Jacobs
DIE Nasionale Rolbalkampioenskap vir gestremde persone vind vanjaar van Sondag tot Saterdag, 27 Mei tot 2 Junie, op Oudtshoorn se rolbalbane plaas.

Sowat 131 gestremde spelers vanoor die hele Suid-Afrika word hier verwag. Onder hulle is 37 fisiek gestremdes, 47 gesiggestremdes en 47 aanwyers wat die spelers sal bystaan.

Van die Sondag tot die Dinsdag sal die 37 fisiek gestremdes mekaar die stryd aansê. Hulle word in drie kategorieë ingedeel, naamlik spelers wat erg gestremd is en waarvan die been bokant die knie geamputeer is, en in ’n erge mate serebraal verlam is; spelers wat matig gestremd is en rolstoele gebruik. Hulle is matig serebraal verlam. Hulle gebruik rolstoele met wiele waarvan die bande aangepas is om op die bane te ry; en spelers wat beskryf word as die minste gestremd tov balans en krag. Dit is spelers waarvan die arm geamputeer is.

Van die Woensdag tot die Saterdag neem 47 gesiggestremdes en hul aanwysers deel.

Volgens Alewyn Hanekom van die Oudtshoorn Rolbalklub voel die klub bevoorreg om dié besonderse geleentheid aan te bied, veral ná die suksesvolle Interdistrikte Toernooi wat plaaslik aangebied is. Dit is moontlik gemaak deur die ondersteuning, betrokkenheid en borgskap van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het hy gesê.

Gertjie Bekker, president van die klub, sê toegang tot die toernooi is gratis en nooi belangstellendes om te kom kyk.