Deur Garnett Wicomb
BORGTOG is in die Oudtshoorn Landdroshof geweier aan ’n man van Kanaalweg, Bongolethu, wat tereg staan op klagtes van verkragting, seksuele aanranding en die aanranding van ’n tienjarige meisie met die doel om ernstig te beseer.
Volgens die klagstaat het die 48-jarige man sy vinger in die geslagsdeel van die kind gesteek, haar met ’n mes gesteek en gedreig dat hy haar sal verkrag.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het borgtog teengestaan omdat dit nie in belang van geregtigheid sal wees nie.
“Mense is op van al die misdaad en baie neem nie eers meer die howe in ag nie. Die mense wil beskerm word en die beskuldigde kan ook nie sy eie adres bevestig nie,” het sy gesê.
Volgens landdros Roelf Konstabel het die staat ’n sterk prima facie-saak en is geen buitengewone omstandighede voor die hof gebring om borgtog toe te staan nie.
Volgens die landdros is die beskuldigde se eie veilighied in gedrang omdat hy reeds deur die moeder van die kind aangerand is.
Hy staan tereg op ernstige klagtes waarvoor lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 27 Februarie 2018 uitgestel.