Die hangbrug op Oudtshoorn wat verlede September gesluit is.
Deur Liesel le Roux
DIE herstel van die historiese hangbrug oor die Grobbelaarsrivier in Kerkstraat, Oudtshoorn sal binne die volgende maande afskop, sê Johan Fourie, raadslid van die Groter Oudtshoorn belas met tegniese dienste.
Volgens Fourie is dit vir die munisipaliteit ’n prioriteit om die hangbrug so gou moontlik na sy vroeëre glorie te herstel.
Die munisipaliteit het die hangbrug in September onbepaald gesluit nadat verskeie dwarsplanke op die brug se loopvlak gesteel is. Die brug het ook heelwat verdere onderhouds- en herstelwerk nodig.
Die munisipaliteit wag egter nog vir Erfenis Wes-Kaap om vir hulle die groen lig te gee om met die proses te begin en ook aan te dui hoe die herstelwerk moet geskied.
Die hangbrug wat in 1914 gebou is, is in 1964 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Deesdae staan dié gedenkwaardighede bekend as provinsiale erfenisgebiede, en geen herstelwerk daaraan mag sonder die leiding, toestemming en goedkeuring van Erfenis Wes-Kaap gedoen word nie.
’n Verslag oor die brug is reeds verlede jaar deur die munisipaliteit aan Erfenis Wes-Kaap voorsien.
Fourie sê die munisipaliteit het reeds drie kwotasies vir herstelwerk gekry en is gereed om die koste vir die brug te verwys na die aansuiweringsbegroting wat in Februarie bespreek word.
“Ons wil weer verskoning vra vir die ongerief wat die sluiting van die brug veroorsaak. Ons is gereed om so gou as moontlik aan die werk te spring.”