Winterprojek vanjaar ook viering van Nel se nalatenskap

Personeel van Seeff Oudtshoorn by van die geskenkies wat vandeesweek as deel van hul winterprojek aan bejaardes van Helen Bellinghanhof en Coronation Memorial oorhandig is. Van links is Bettie Nel, Elmerie Alberts en Lisa Meyer. Foto verskaf

254 bejaardes van Helen Bellinghanhof en Coronation Memorial op Oudtshoorn is die week bederf met geskenkpakkies met items soos handeroom, seep en koekies daarin.

Kom­berse en warm sokkies is ook uitgedeel.

Dié projek was deel van Seeff Oudtshoorn se jaarlikse winterprojek waardeur inwoners die geleentheid kry om hul mede-Oudtshoorniete met skenkings by te staan, maar is vanjaar hoofsaaklik befonds deur vriende van Melcus Nel.

Nel, ’n bekende sakeman van Oudtshoorn, is op 22 Mei oorlede.

Jan Verlinde, verkoopsbestuurder van Seeff Oudtshoorn en skoonseun van Nel, sê die publiek het nie vanjaar die winterprojek so goed soos vorige jare ondersteun nie.

’n Groot hupstoot vir die projek het egter gekom toe Nel se gesin mense versoek het om eerder kontantskenkings aan die winterprojek te doen as om blomme te stuur.

Vriende en ou skoolmaats van Nel van dwarsoor Suid-Afrika het positief gereageer en tot die fonds bygedra, en so het die projek vanjaar ook ’n viering van Nel se nalatenskap geword.

Volgens Nel se eggenoot, Steph, het haar man voor sy dood gesê hy gaan die winterprojek vanjaar finansieel steun en dat die gesin daarom dit as ’n liefdadigheidsprojek gekies het wat mense kon steun eerder as om blomme te stuur. (Deur Liesel le Roux)