VROUE moet sterk wees soos ’n Debora en Abigail van ouds; dapper soos ’n Ester; vreesloos soos ’n Sarah, Rut, Priscilla en die Samaritaanse vrou, en sê “genoeg is genoeg” soos ’n Hanna van ouds.
Dit was Saterdagoggend die boodskap van ’n voormalige leerondersteuning-vakadviseur van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Wilna Francis, aan sowat ’n honderd vroue tydens ’n Damesoggend aangebied deur die vroue van die Weyers Memorial United Congregational Kerk op Oudtshoorn se Wyk Elim.
“Vroue, en veral die wat reeds afgetree het, moenie gaan stilsit nie omdat hulle nog baie kan doen. Ons gemeenskappe het ons nodig,” het Francis gesê.
Die tema van die oggend was: Wees sterk, dapper, vreesloos en genoeg.
Francis het gesê dit is skokkend dat geslagsgeweld teenoor vroue in Suid Afrika voortgaan.
Sy het verwys na die pas aangekondigde statistiek deur die minister van polisie dat daar in 2022 800 meer verkragtings was as in 2021 en dat geweldsmisdaad teenoor vroue en kinders toegeneem het.
“As vroue het ons ’n moreel etiese plig om ons te verset, in woord en daad, teen die mites en wanpersepsies rondom vroue wat veroorsaak dat vroue as natuurlike teikens gekies word vir die mees brutale en perverse moorde, verkragtings en verminkings.”
Volgens Francis het die tyd ook aangebreek dat vroue eendragtig weerstand bied teen uitsluiting, onderdrukking en marginalisering.
“Vroue moet self in die gemeenskappe waarin hulle leef en werk sê: Ons trek nou ’n streep in die sand en dit gaan nie skuif nie.”
“Wees gemaklik met jou vrouwees as ’n geskenk van God. Aanvaar jou verantwoordlikheid en leef dit aktief uit in die ruimtes waar jy elke dag werk en leef, en moenie apologeties wees oor wie jy is nie.” (Deur Garnett Wicomb)
Vroue moet dapper, sterk en vreesloos wees
Vroue sing die lied I Will Survive na Wilna Francis se toespraak by ’n Damesoggend Saterdag. Foto: Garnett Wicomb