‘My stories kom van hier af’

Eldene droom om eenheid te sien op Oudtshoorn

Eldene Jones, haar ma Leahenda en haar seun Avant Jones George. Haar ma is haar rots, sê sy.                                        Foto: Colin Quinto

Eldene Jones, haar ma Leahenda en haar seun Avant Jones George. Haar ma is haar rots, sê sy. Foto: Colin Quinto

Ek is Oudtshoorn

Hierdie is die tweede in ’n reeks gesprekke met inwoners wat vertel waarom hulle gekies het om op
Oudtshoorn te woon.

Deur Liesel le Roux
SY was al aktrise, dramaturg en die aanbieder van verskeie roadshows vir groot maatskappye soos Nestlé en Kellogg’s, maar Oudtshoorn bly die plek waar sy wil woon en waar sy veilig voel. Dit is ook die plek waar sy haar kind wil laat grootword, vertel die talentvolle Eldene Jones (30) van Bridgton.

Eldene, oud-leerder van Colridge Pri­mêr en die Hoërskool Oudtshoorn, het op ’n jong ouderdom al sukses op verskeie terreine gesmaak, maar ook die seer kant van die lewe ervaar. Haar ervaringe het haar gebring tot ’n punt waar sy passievol is oor gemeenskapsontwikkeling deur mid­­del van die kunste. Sy wil die mense om haar – veral diegene wat niks het nie – inspireer, help om as mense te ontwikkel en veral ook Oudtshoorn se stories na die verhoog, TV-skerm en sosiale media neem.

In ’n eerlike gesprek met Die Hoorn vertel Eldene sy verstaan wanneer mense swaarkry of probleme het, omdat haar lewe ook nie altyd maanskyn en rose was nie. Sy was die talentvolle kind – die een wat kon teken en organiseer, die leer­gie­rige een wat ook as model uitgeblink het.

Sy was ook die een wat ’n baie hegte en liefdevolle verhouding met haar pa gehad het. “Ek onthou ek, my broer en pa het gereeld oor die pad geloop tot in die veld en hasies gaan jaag met ons twee groot honde. Ek onthou die vlinders hoog in die skoon blou lug en ek het altyd gevoel ek sweef met hulle daarbo vêr van alles en almal…”

Maar daar was die seer kant, haar pa wat verander het as hy te veel gedrink het.

“Daar was nagte waar ons moes wag totdat hy bedaar en gaan slaap sodat my ma met ons in die middel van die nag na my Ouma-hulle kon vlug; ek op my ma se heup, my broer wat aan haar romp vasklou vir ondersteuning en my suster wat van agter aangedraf kom met die sakke. Die pad was donker met enkele straatligte wat die pad vorentoe lei…”

Die gesin het egter daardie tyd en gebeure verwerk en agter hulle gesit, sê Eldene. “Ons is grootgemaak in en uit liefde en nie om mense te oordeel nie. My pa het ons immers meeste van die tyd bederf. Ek het altyd soos ’n prinses gevoel en niks tekort gehad nie. Geld en bederfies was die kulkunstenaar – dit laat jou as kind vergeet van al die pyn.”

Daar was ook die trauma toe hulle gesin uit hul gerieflike huis in Coldridge Uitsig moes trek nadat haar pa sy werk by Mosgas verloor het en moes trek na haar ma se tweeslaapkamerhuis in Bridgton waar die res van haar gesin reeds gewoon het. “Dit het vir my gevoel asof die hemel geval het. Ek kon ewe skielik nie meer die blou lug sien nie, ek kon nie meer kleur sien nie. Net die swaar, donker vaal lug wat my van bo af druk en laat voel asof ek nie meer asem haal nie. Ons was twaalf mense onder een dak en elk­een moes sy hoekie vind.

“Niks was meer normaal nie. Borrelbaddens was iets van die verlede; ’n skotteltjie water en koekie groen Sunlight- seep was nou ’n luxury. Soms het dit so moeilik gegaan dat daar nie kos was nie.”

Eldene het gefokus op haar skoolwerk en tussendeur haar passies vir modelwerk, kunskompetisies en ballet uitgeleef. Sy het geweet dat sy eendag suksesvol wil wees en wil geld maak. Ná skool het sy advertensiewese aan die AAA School of Advertising gestudeer, maar die “teatergode het geroep” en die volgende jaar het sy by Northlink College begin studeer. Hoewel sy haar studie weens ’n gebrek aan finansies nie kon klaarmaak nie, het sy by verskeie produksies betrokke ge-raak. Haar pad het gekruis met die van die akteurs Abduraghmaan Adams en Riaan Visman, ook ’n Oudtshoorniet, en by 2010 se KKNK was sy te sien in die produksie Kap Án. In 2011 het sy haar eie produksie na die KKNK gebring – Die Kuierkombuis met Diana Ferrus se gedigte. Ander rolle het gevolg asook ’n drama met die titel Bitter Soet Einde wat sy in 2012 by die KKNK opgevoer het.

Maar toe, in 2013 sterf haar suster, Abigail Jones, op die ouderdom van 32.

“My lewe het in duie gestort. Sy was altyd daar. Altyd. Om my uit te tart, na my te luister, al my geheime te ken.

“Ek het na haar dood letterlik alles verloor tydens my healing process. Ek het al my besittings verloor, my hare, my mens­waardigheid, en dit het gevoel asof ek kop verloor. Ek moes weer gebore word, want iets binne-in my het doodgegaan.

“Ek wou net vlug. Ek het Johannesburg toe getrek. En het gedink ek kon daar van alles vergeet en oor begin.

“Maar toe ek sowat ’n jaar later swanger word, het ek besef my tuisdorp is die enigste plek op aarde waar ek met ’n geruste hart deur my swangerskap kan gaan.

“Dit het my teruggebring na my familie. Die ontvangs deur my ma was ongelooflik; alles was so rustig. Ek kon weer begin fokus op wie ek is, waarvandaan ek kom… en waarheen ek op pad is.

“My kind is die beste ding wat al ooit met my gebeur het. Ek het met hom geleer om tot rus te kom. Ek het alles begin terugkry.

Met ’n wonderlike familie wat nog altyd vir my gebid en my ondersteun het. Ek wil graag my kind hier grootmaak.

Nou is die gemeenskap haar passie. “Ek wil die kinders in die Lane en in Bridgton blootstel aan toneelspel, modelleerwerk, fotografie, film­maak, besigheid. Ek wil hulle leer om te luister, hoe om te praat met mense. Daar is baie basiese vaardig­hede wat belangrik is en ’n verskil kan maak in dié kinders se lewens.

“Sedert 2015 het ek my besigheid hier op Oudtshoorn begin bou. Ek is die voorsitter van New Base Arts Development met Lick Bass Productions ons vennoot in Kaapstad.

“Dit is vir my lekker om terug te gee en ’n verskil te maak in ander se lewens. Dit was verbasend om te sien hoe die jongspan na my opkyk. Ek wil hulle inspireer om nie op te gee nie. Ek wil graag meer Oudtshoorn-stories op die verhoog en TV sien, en op sosiale media – al is dit net ’n foto wat gepos word.”

Sy vertel sy het die begin van die jaar by die Oudtshoorn Besigheids­kamer betrokke geraak om te kan netwerk met ander mense op Oudts­hoorn wat dalk anders dink, leef en op die dorp werk. “Ek wil ook graag die gaping tussen wit, swart en die bruin Khoisan-mense sien kleiner word tot waar ons almal kan sê: Ek is Oudtshoorn; ek is Die Hoorn en ek waardeer Bridgton… Ek weet waarvandaan ek kom en ek weet waarheen ek op pad is. Ek droom om eenheid te sien op Oudtshoorn.”