Gemeenskapskas gereed om verskil te maak hier

DIE Munisipaliteit Oudtshoorn het ’n Memorandum van Verstandhouding (MOU) onderteken met die Gemeenskapskas, ’n Kaapstad-gebaseerde maatskappy sonder winsoogmerk, om dienste in die Groter Oudtshoorn te lewer.

Die fokusareas van die MOU is onderwys, gesondheid en gemeenskapsontwikkeling.

Hierdie vyfjaar-vennootskap is volgens die burgemeester, Colan Sylvester, “gemik op die bereiking van die munisipaliteit se doelwitte ten opsigte van gemeenskapsopheffing”.

“As ons gemeenskap bloei, bloei ons almal,” sê Sylvester.

“Die woorde ‘An injury to one is an injury to all’, is steeds relevant, aangesien mense geneig is om na die munisipaliteit te kom wanneer dinge in hul gemeenskappe verkeerd loop.”

Hy het bygevoeg: “Die Gemeenskapskas sal die maatskaplike ven­noot van die munisipaliteit wees in ge­meenskaps­ontwikke­- lings­projekte en korporatiewe ondersteuning mobiliseer vir geïdentifiseerde projek­te en veldtogte.”

In haar toespraak by die ondertekening van die MOU het die onder-burgemeester, Nolu­than­do Mwati, die Ge­meenskapskas geprys vir die werk wat hulle reeds in Oudtshoorn gedoen het, selfs in die afwesigheid van ’n MOU.

“Die tyd het nou aangebreek dat die munisipaliteit erkenning gee aan die onlangse bydraes van die Gemeenskapskas; een daarvan die skenking van sanitêre doekies aan plaaslike skole.”

Lorenzo Davis, uitvoerende hoof van die Gemeenskapskas, het gesê dit is ’n voorreg vir sy organisasie om saam met die munisipaliteit ’n verskil binne die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn te maak.

“Ons is verbind tot hierdie strewe, en ook om te verseker dat maatskaplike vennootskappe versterk word.”

Die twee partye het ooreengekom dat die Gemeenskapskas ook namens die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit geteikende fondsinsamelings sal doen vir projekte wat in die ooreengekome jaarlikse projekplan uiteengesit word.