Opgradering aan nog ’n hoofpad skop af

Deur Marlene Malan
’N HERSTELPROJEK van R73 miljoen aan die pad tussen Prins Albert en die N1 het die afgelope Maandag (15 Januarie) begin.

Die R407 van 47 km – die hoofverbindingspad tussen Prins Albert en Prins Albert-weg – word herseël, twintig jaar nadat dit die laaste keer gedoen is. Dit word moontlik gemaak deur die provinsiale departement vervoer en openbare werke, onder leiding van minister Donald Grant, en sal middel vanjaar voltooi word.

Volgens Byron la Hoe, kommunikasiebeampte van die departement, toon die pad tekens van agteruitgang aan die kante en het krake in die teeroppervlak. Voorkomende instandhoudingswerk sal ook gedoen word om die lewensduur van die pad te verleng. Dit sal op plekke gelap word, en verbeterings aan die dreinering en brugstrukture gaan aangebring word.

Die werk is deel van ’n reeks padprojekte wat die afgelope jare in die omgewing aan die gang is. Drie jaar gelede is die pad tussen die N1 en Merweville opgeknap en geteer, ’n sesjaarprojek wat R43 miljoen gekos het. Die noordelike 4,5 km van die Swartbergpas is einde Oktober weer oopgestel ná herstel­werk van sowat R12 miljoen, nadat dié stuk pad in April verlede jaar in ’n flitsvloed weggespoel het. Daar is ook opgra­deringsprojekte aan die gang van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust en die pad tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte.

Motoriste sal op die R407 op ’n stop-ry-grondslag deurgelaat word om verkeersvloei te bestuur, met ’n 15 minuut-wagtyd. “Die departement besef sulke vertragings is frustrerend, maar ongerief gedurende konstruksiewerk is onvermydelik. Binnekort sal die pad ’n baie veiliger en aangenamer reiservaring bied.”

La Hoe sê die projek skep ook werk- en vaardigheidsopleidingsge­leenthede vir plaaslike inwoners kragtens die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP). Altesame 14 500 werkdae word geskep vir mense wat in Prins Albert se munisipale gebied woon.

Sommige winkels in Prins Albert het spesiale reëlings met die padbouspan getref om langer oop te bly sodat werkers hulle inkopies ná ure kan doen.