Boeiende verhaalverteller Maggie Hendricks se stem word stil

Prins Albert se oudste inwoner, Tannie Maggie Hendricks, is op Nuwejaarsdag op haar 108ste verjaardag oorlede. Sy was een van die hoofvertellers in die film Eerstewater wat verlede jaar deur nog ‘n inwoner van Prince Albert, Helene Smit, vervaardig is. Hierdie foto van Tannie Maggie is ’n skermgreep uit Eerstewater.

Prins Albert se oudste inwoner, Tannie Maggie Hendricks, is op Nuwejaarsdag op haar 108ste verjaardag oorlede. Sy was een van die hoofvertellers in die film Eerstewater wat verlede jaar deur nog ‘n inwoner van Prince Albert, Helene Smit, vervaardig is. Hierdie foto van Tannie Maggie is ’n skermgreep uit Eerstewater.

Deur Marlene Malan
IN die dokumentêr Eerstewater – oor Prins Albert en sy mense – was sy die onderhoudende verteller van die boeiende verhaal oor die kind en die mitiese slang. Ook oor haar jare as kinderoppasser hier toe sy mense soms voor stok gekry het oor die manier waarop hulle hul kinders grootmaak.

Nou is Maggie Hendricks, Prins Albert se oudste inwoner, se stem stil; haar rykdom van verhale saam met haar graf toe nadat sy op Nuwejaarsdag, op haar 108ste verjaardag, stil in haar bed in die woonbuurt Noordeinde gesterf het.

Haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders was gereed vir haar vertrek, sê haar dogter, Bettie Maans (74).

“Op Nuwejaarsdag is Mammie saggies weg. Van Kersdag af het sy sommer net begin agteruitgaan. Ons het geweet. Sy’t stiller en stiller geword.”

Vier dae voor haar dood het sy nog vir oulaas na ’n kleinkind geroep, “en van toe af het sy nooit weer gepraat nie. Daar was net stilte in haar kamer. Haar suster het gesê ons moet haar uitlos; ons moenie so om haar bed staan nie, dat sy kan gaan. Toe sit ons maar in die voorkamer en wag. Hier teen agtuur die aand het ek opgestaan en na haar gegaan, toe ek niks meer uit die kamer uit hoor nie. Toe sien ek Ma is stil.”

Chandré Jacobs, ’n agterkleinkind, was naas Maans seker die naaste aan Ouma Maggie. Haar hartseer is vlak, al het sy geweet min mense word so oud soos dié vrou wat wat kleins af deel van haar lewe was.

“Ek het van standerd vyf af na Ouma begin kyk. Ek was maar altyd daar vir haar, en sy vir my.”

Volgens Maans was haar ma die kern van die familie.

“Mammie was ’n goeie, lieflike mens. Sy was altyd beskikbaar vir almal. Haar hart was sag. Maar sy was ook streng; sy’t geweet wat sy wil hê. Sy’t nie nonsens gevat nie.”

Smit sê dit was ’n voorreg om in 2016 en 2017 saam met “Tannie Maggie” aan Eerstewater te werk.

“Sy was ’n fantastiese storieverteller, ’n ware versorger, ’n vrou met ’n heerlike humorsin en warmte. Haar dood is ’n verlies vir ons dorp.”