Helena van Heerden. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
“DIT is nooit te laat om te begin leer of om jou drome te volg nie,” sê Helena van Heerden, Langenhoven Gimnasium se Dux-leerder en toppresteerder vir 2017.
Helena spog met ’n vakgemiddeld van 89,7 % asook sewe vakonderskeidings. Sy begin vanjaar met ’n vyfjaar-kontrak by Moore Stephens, ’n finansiële firma in George , terwyl sy deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gaan studeer. Sy wil graag ’n geoktrooieerde rekenmeester word, sê sy.
Helena is die dogter van Danel en wyle Pieter Willem van Heerden. Haar ma is ’n mediese tegnoloog in Mosselbaai. Haar pa is in 2010 oorlede.
“Vandat ek in graad 10 vakkeuses kon maak, het ek baie van rekeningkunde en wiskunde gehou. Ek is wiskundig aangelê en is dankbaar daarvoor. My ouers het my van kleintyd af my maaltafels laat doen en gehelp met lees en skryf. Ek is daarom ook lief vir lees. Ek wou al ’n honderd verskillende dinge doen, maar omdat ek rekeningkunde so geniet het, was dit ’n duideliker opsie.”
Sy sê sy wil ook graag eendag sendingwerk doen.
“Of dalk sal ek my eie besigheid begin waardeur ek mense kan help en hulle nader aan God bring. Ek gee alle eer aan Hom – vir die krag, motivering en mense wat my gehelp het. Ek het bietjie laat wakker geskrik en eers in matriek regtig my potensiaal bereik, maar dit is nooit te laat om jou drome te volg nie.”
Helena het vir haar skool se eerste span hokkie gespeel en was in haar matriekjaar die kaptein. Sy het ook deelgeneem aan swem, tennis en streekspan-atletiek. Sy was die hoofmeisie van Aristo-koshuis en onderhoofmeisie by die skool.
“My familie is baie trots op my. My ma is net bly ek volg nie ’n mediese rigting soos sy nie!” sê sy.