Net een week tot Relay for Life!

OUDTSHOORN is weer gereed vir die jaarlikse Kansa Relay for Life wat volgende week Saterdag (3 Februarie) op die De Jager Sportstadion aangebied word. Die Relay for Life is ’n fondsinsamelingsgeleentheid vir Kansa en wil ’n bewust­heid oor kanker skep. Dit vind deurnag plaas met spanne wat om die atletiekbaan stap.

Die program skop om 18:00 af met die ope­ning­seremonie en daarna die oorwinnaarsrondte (19:15) waartydens mense wat kanker oorwin het of daarmee leef om die baan sal stap. Dit word gevolg deur ’n rondte vir spanne met bewusma­kingsplakkate met daarna ’n rondte waartydens versorgers met kerse om die baan sal stap en spanne hul Luminaria-kerse om die baan sal aan­steek soos die versorgers by hulle verbystap. Die aangrypende Luminaria-seremonie vind daarna om 21:00 plaas. Alle deelnemers word versoek om wit klere vir dié seremonie te dra.

Volgens Riana Lindeque, voorsitter van die Relay for Life-komitee, sal die spanne wat deurnag deelneem, baie pret kan hê om aan te trek vir verskillende temarondtes. Dit sluit in temas soos wêreldsport (22:00), cross dressing (23:00), Klaasvakie (24:00), onder die see (01:00, agteruit in pers (02:00), Kaktus op die vlaktes (03:00) en herwinning (04:00). Die afsluitingsdiens om 05:30 word gelei deur ds André Boezak.

• Lindeque sê spanne kan hul kampplekke reeds die Saterdagmiddag vanaf 16:00 kom voorberei.
Sy het deelnemers en besoekers versoek om die geleentheid saam te kom geniet. “Bring jou positi­witeit en vrolikheid na die geleentheid. Onthou om kontant te bring vir kos by die stalletjies en iets warm vir die koue oggendure.”
Toegang vir dagbesoekers is R40 tot 22:00 en R70 deurnag. Die hekke sluit om 22:00, en sal ook tydens die openingseremonie tussen 18:00 en 18:45 gesluit wees.

• Lees meer volgende week oor die program.