Van links is Kannaland se munisipale bestuurder, Reynold Stevens, hoof van finansies, Bennie Strydom, burgemeester Mag- dalena Barry en speaker Aletta Theron.
DIE Kannaland Munisipaliteit se burgemeester, Magdalena Barry, het Maandag bekend gemaak dat die munisipaliteit sy uitstaande Eskom-skuld van R12 miljoen onlangs ten volle vereffen het.
Volgens Barry het die huidige raad dié skuldlas geërf van die vorige Icosa-beheerde raad. “Ons het nie ons rug gedraai op dié uitdaging nie, en dit heldhaftig en met hoop tegemoet gegaan.”
Volgens die munisipale bestuurder, Reynold Stevens, het Eskom gedreig om die dorp se ligte af te skakel nadat die vorige administrasie nie sy Eskom-rekening betaal het nie. “Ons moet die foute van die verlede erken en korrektiewe optrede daarstel om ’n gesonde finansiële basis vir die toekoms te skep. Ek is oortuig dat die Kannaland Munisipaliteit op pad is om ons strewe te bereik. Ons het binne ’n kort tydperk meer as die helfte van ons R70 miljoen-skuldlas betaal.”
Barry het bygevoeg dat die munisipaliteit ’n geskiedenis het van wanadministrasie en swak finansiële bestuur, maar dat die huidige raad hard werk om die beeld en integriteit van die munisipaliteit te herstel. Sy het die munisipale bestuurder Reynold Stevens, en hoof van finansies, Bennie Strydomm bedank vir hul leierskap om die finansiële herstelplan van Kannaland Munisipaliteit te dryf. “Dit het vasbeslote en beginselvaste leierskap geverg om Kannaland op die regte pad te plaas.”