‘Van hero tot zero tot hero’

Bruce Snyman, wat as rofstoeier bekend gestaan het as Big Bad Bruce, en sy suster, Gerda Tait. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux en Angelique Erasmus
’N ROFSTOEI-EXTRAVAGANZA soos Oudtshoorn nog nooit gesien het nie, met plek vir tot 1 000 toeskouers.
So bestempel Gerda Tait van Oudtshoorn die Interworld Wrestling Legend of Legends wat op 16 Junie by die Smitswinkel op Oudtshoorn plaasvind.
Dié groot rofstoeibyeenkoms het egter ’n baie spesiale doel. Gerda wil daarmee fondse insamel om vir haar broer, die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewig-rofstoeikampioen bekend as Big Bad Bruce ’n elektriese rolstoel te koop en te help met sy mediese onkoste.
Bruce Snyman (50) was op sy dag ’n legende, maar diabetes het veroorsaak dat dié man wat op 35 die skaal op 235 kg laat kreun het, beide sy bene verloor het.
Die stoeikryt word spesiaal van Port Elizabeth hierheen gebring, die stoeiers is bekendes in rofstoeikringe. – onder hulle tel Blacksmith, Dwayne Shutte en Ananzi.
“Ek het van ’n hero tot zero gegaan, maar vandag is ek weer ’n hero want ek is geestelik op ’n goeie plek,” sê Bruce
Bruce het 21 jaar lank as amateur gestoei, en in 1987 sy Springbok-kleure as amateurstoeier in die weermag gekry.
Van 1991 tot 2010 het hy professioneel gestoei as Big Bad Bruce.
Sy professionele loopbaan het begin toe hy in 1991 vir Jacky Koen, promotor van Internation Wrestling Promotions, ontmoet het. Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was in 2004 toe een van sy gevegte op eTV uitgesaai, en deur meer as 13 miljoen TV-kykers gesien is. Behalwe vir sy gevegte dwarsoor Suid-Afrika was hy ook gesog vir optredes in advertensies en rolprente.
Hy was al te sien in 150 internasionale advertensies, drie plaaslike advertensies vir Vodacom asook ’n advertensie vir die Nelson Mandela Kinderfonds. Rolprente waarin hy te sien was, is Diamond Hunters saam met Will Smith en After the Rain.
Bruce vertel hy en sy mede-stoeiers het in 1995 Amerikaanse rofstoeiers soos Big Show, Eddie Carreiro en Brett Heart uitgedaag. Hul bestuurder Vince McMahon wou egter niks weet nie. “Sy woorde was dat ons te hardcore is!”
Bruce se lewe het egter verander toe hy op 35 in ’n geveg in Durban teen Gamazing, Sean Koen en Spider Nel ’n ligament geskeur het en hospiaal toe is vir behandeling. Daar is vasgestel hy het diabetes.
“Dit was ’n groot skok vir my,” sê Bruce. “ ’n Dieetkundige het my gehelp om gewig te begin verloor. Ek moes ’n hele leefstylverandering maak, wat moeilik was met my werk. Dit het ’n groot impak op my stoeiloopbaan gehad, want ek moes toe in ’n ander afdeling veg. ”
Bruce het sedert 2011 al 21 operasies ondergaan waarin hy binne drie maande eers sy kleintoontjie, toe al sy tone aan die een voet, die hele voet en later sy been verloor het. In April 2018 het hy sy ander been ook verloor.
Bruce kan egter vandag met homself spot: “Hulle het my van 1,91 meter na 1,21 meter verkort en ek sal nou kan deelneem teen dwergies.”
Bruce, ’n weermagveteraan, gekwalifiseerde ambagsman en paneelklopper, sê ten spyte van al die pyn en dit wat hy alles moes deurmaak, is hy geestelik op ’n goeie plek.
“Ek glo dat die Here my elke dag dra, mense se gebede ’n groot verskil maak en word oorweldig deur al die ondersteuning wat ek daagliks kry.
“Gerda is ’n ystervrou,” sê hy trots oor sy suster.
“Wanneer ek wil opgee, sê ek vir myself: Jy is al daardeur; byt vas en smile.”
En hy het ’n droom vir Oudtshoorn.
Hy wil met die hulp van Brian Mitchell, wêreldkampioen in boks, ’n stoei- en boksklub op die dorp begin vir kinders, amateurs en mense wat professioneel wil deelneem.
Hy wil ook graag mense motiveer en bewus maak van die gevare van diabetes.
• Die Interworld Wrestling Legend of Legends vind op 16 Junie by Smitswinkel op Oudtshoorn plaas. Kaartjies kos R100 per persoon. Kontak Gerda Tait by sel 074 474 7743 vir meer inligting.