‘ ’n Paleis van pragtige stalaktiet- en stalagmietformasies’

Dié foto van die Kango Grotte buite Oudtshoorn is deur CNN gepubliseer by ’n artikel oor die 23ste mooiste plekke in Suid-Afrika.
Deur Liesel le Roux
DIE Kango Grotte is een van die 23ste mooiste plekke in Suid-Afrika, sê ’n artikel wat onlangs deur die Amerikaanse televisiekanaal CNN gepubliseer is.
Die Kango Grotte buite Oudtshoorn in die Klein Karoo word in die artikel oor Suid-Afrika beskryf as ’n “paleis van pragtige stalaktiet- en stalagmietformasies” waar toere daagliks beskikbaar is.
Dié artikel vertel met foto’s en ’n kort beskrywing watter plekke in Suid-Afrika van die mooiste is om te besoek.
Dit sluit natuurwonders soos Tafelberg, die Bourke’s Luck Potholes, Namakwaland en die Amfiteater in die Drakensberge asook mensgemaakte aantreklikhede in.
Die artikel besing behoorlik die land se “glorieryke” natuurwonders, strande, nasionale parke, heuwels en vleilande, en die mensgemaakte aantreklikhede soos wingerde, diamantmyne, en stede soos Kaapstad en Johannesburg.
Oudtshoorniete kan met reg trots wees op die Kango Grotte!