Oudtshoorniete raak positief

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

DAAR word dikwels gesê Oudts­hoor­niete is lief om te kla.
Daar is selfs ’n Facebook-groep – weliswaar in ligte luim – gestig met die naam: Oudtshoorniete kla saam!

Want, ja, soms hoor ons net die individue wat oënskynlik hul lewe daar­­aan wy om iets te vind om oor te kla. En eintlik is dit nie iets uniek aan Oudtshoorn nie; dié klaers woon dwars­oor die wêreld.

Wat inwoners egter moet besef, is dat daar tans op Oudts­hoorn ook ’n gees van positiwiteit, van onderne­-mingsgees en van samewerking onder baie is wat elke inwoner opgewonde behoort te maak.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer se Ek is Oudtshoorn-werkgroep het baie daarmee te doen om nou as “voer­­tuig” te dien vir planmakers, geesdriftiges en mense wat lief is vir Oudtshoorn wat hul hande opsteek om die dorp op verskillende maniere te verbeter en lekkerder te maak vir sy inwoners.

Want al kan inwoners nie slaggate in ’n straat herstel nie, kan ons saam baie ander dinge doen: Ons kan ge­sprekke tussen mense aan die gang kry oor verskeie onderwerpe; ons kan saampraat en -dink oor hoe ons die dorp oor vyf of twintig jaar wil sien; ons kan interessante geleenthede vir inwoners reël (daar is baie, baie idees waaraan gewerk word en wat deur die jaar sal realiseer); ons kan saam by herwinning betrokke raak al is daar nie ’n munisipale herwinning-stel­sel nie; ons kan saam planne maak om die klem te begin plaas op ’n skoner dorp met volop – en die mooiste – asdromme.

Ons kán saam dit wat ons in die Klein Karoo het, waardeer. Ons kán saamwerk en die goeie in mekaar raaksien. Want elkeen van ons is Oudtshoorn.