Ithemba Huis het jou hulp nodig

Jan Ayford (links), voorsitter van Ithemba Huis vir Haweloses, en Daniel Smith, ondervoorsitter, voor die huis. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Ithemba Huis vir Haweloses in Jubileestraat op Oudtshoorn wroeg tans met die feit dat hulle na meer haweloses van die dorp probeer omsien as waarvoor hul subsidie van die staat kan sorg, met die gevolg dat die bestuur met hande in hare sit van frustrasie en mismoedigheid.

“Ons is oor kapasiteit, maar mense kort steeds hulp en ons wil hulle help, soveel as moontlik, maar huidige omstandighede maak dit byna onmoontlik,” het Jan Ayford, voorsitter van die bestuur vandees-week gesê.

Volgens Ayford het die huidige beheerliggaam eers oorgeneem toe Ithemba nie meer onder die Departement Maat­skap­like Ontwikkeling (DMO) geval het nie.

Tans ontvang Ithemba ’n subsidie by die DMO om tien beddens te befonds, maar daar is tans 20 mense wat afhanklik is van Ithemba se hulp.

“Ons trek swaar, en ons het die ge-meenskap se bystand hiermee nodig. Ons kan nie die mense wat hierheen kom wegwys nie, maar ons het werklik hulp nodig,” het Ayford gesê.

Ayford het gesê dat die huidige subsidie moet sorg dat daar krag aangekoop word, die huis moet in stand gehou word, ’n maatskaplike werker en ’n kok se salarisse moet betaal word, kos moet aangekoop word en die waterrekening moet betaal word.

“Die Covid-19-pandemie het beslis bygedra tot ons huidige omstandighede, maar die situasie spreek ook tot die groter probleem van haweloses in ons land. Ons vra dat besighede, boere en die breër gemeenskap ’n hulpende hand na ons toe sal uitreik,” het Ayford gemaan.

Onder die talle items wat Ithemba be-nodig is groente, melk, eiers, warm komberse en toiletware.

“Met die winter op ons gaan ons veral komberse benodig. Ons vra ook dat boere in die omgewing sal oorweeg om hul oortollige groente, hoender- of volstruiseiers, en melk vir ons te bring. Ons sal baie dankbaar wees daarvoor,” het Ayford by-gevoeg.

• Indien inwoners van Oudts­hoorn hulp wil verleen of wil bydra, kontak Ithemba by 066 168 6711 en vra om met die maatskaplike werker te praat of vir die kontakbesonderhede van een van die bestuurslede. Alternatiewelik kan inwo-ners die huis gaan besoek by 26 Jubilee-straat op Oudtshoorn. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Ithemba Huis het jou hulp nodig"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*