Groentetuin vir gemeenskap bring hoop én teleurstelling

Die span van Green Leaves Farm is van links Jan Julies, Jason Smit, Brenton Draai, Jolin Loggenberg, Ricardo Dickens en Clive Fortuin. Ander lede van dié nie-winsgewende organisasie wat afwesig was met die neem van die foto is Abraham Louw, Zulton Damons en Zandré Steyn. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE droom van ’n groep Oudtshoorniete van Black Joint om ’n groentetuin vir hulself en die gemeenskap rondom hulle op die been te bring, het van ’n storie van hoop tot een van teleurstelling en frustrasie verander.

Green Leaves Farm, ’n nie-winsgewende orga-nisasie wat deur Jolin Loggenberg en Ricardo Dickens gestig is, en wat tot op hede gegroei het met ’n verdere sewe lede, het die droom om ’n groentetuin vir hul gemeenskap aan te plant wat tot voordeel vir almal kan wees – hulself, hul families, sopkombuise in die gemeenskap, en hulle het gehoop dat dit so sou ontwikkel dat hulle eendag bekostigbare groente aan die hele Oudtshoorn kan verskaf.

Maar al hul werk tot op hede is tevergeefs, sê hulle, omdat die Oudtshoorn Munisipaliteit hul nie kan of wil help met ’n gepaste stuk grond waarop hul die tuin kan vestig nie. Die groep het, volgens Loggenberg, byna begin moed opgee, maar nog nie heeltemal nie.

Loggenberg wou reeds in 2012 ’n soortgelyke groentetuin skep om vir homself, sy familie en die gemeenskap kos te verskaf, en as ’n manier om moontlik werk te skep en ekonomiese opheffing teweeg te bring.

Hy het kort daarna werk in Knysna gevind, maar in 2017 teruggekeer om saam met Dickens die gemeenskapstuin aan te plant. Toe het hulle sommer in iemand se agterplaas begin met tuinmaak, volgens Loggenberg.

“My oupa was my inspirasie, omdat hy self sy eie tuin aangeplant het. Ek wou nog altyd ’n groot, kommersiële boer wees, en so terugploeg in die gemeenskap. “Dit was my motivering om die groentetuin vir die gemeenskap aan die gang te kry,” vertel Loggenberg.

Dus, met die stigting van Green Leaves Farm, het Loggenberg en Dickens aan die begin van 2020 die munisipaliteit begin nader vir hulp met ’n behoorlike stuk grond. “Ons het al ons papierwerk en aansoeke ingedien, soos hulle gevra het, maar met tot dusver is daar nog geen sukses nie.

Maandag (7 Junie) het beamptes van strategiese dienste ons laat weet daar is niks wat hulle vir ons kan doen nie. Ná al die tyd wat ons aan ’n lyntjie gehou is en van die een persoon of departement na die ander gestuur is, kom hulle met geen oplossings of idees van hoe om vorentoe te beweeg nie,” het ’n mismoedige Loggenberg gesê.

Volgens hom het hulle ook reeds steun van minstens drie maatskappye op Oudtshoorn wat hulle wil help met toerusting, saad en saailinge, en ook ondersteuning en bystand, “maar as die grond nie beskikbaar is nie, help dit ons niks nie. Hierdie tuin kan so baie vir die gemeenskap beteken, maar sonder die grond of ’n ander uitweg is ons hande afgekap,” het hy gesê.

Loggenberg het gesê hy en die res van die groep mans wat betrokke is, is nou al so gefrustreerd dat hulle nie meer weet watter kant toe nie.

“Die munisipaliteit moedig mense aan om vindingryk te wees en om hulle te nader met inisiatiewe waarby die gemeenskap kan baat, maar wanneer ons iets doen, is dit nie goed genoeg nie.

“Ons as gemeenskap sukkel, veral in hierdie Covid-19-tydperk, en ons wil die gemeenskap bystaan,” het hy gesê.

Al word hulle met teenstand gekonfronteer, het die nege mans nog nie heeltemal moed verloor nie.

Groente wat hulle reeds in ’n agterplaas in die buurt aangeplant het, het gereeld mooi groente gedra, en hulle hoop dat iemand in die gemeenskap hul inisiatief sal raaksien, en hand bysit met ’n stukkie grond.

• Die Oudtshoorn Munisipaliteit het op Dinsdag, 11 Mei, bevestig dat Die Hoorn se navrae rondom Green Leaves Farm na die betrokke departement gestuur is, maar tot op hede is geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Groentetuin vir gemeenskap bring hoop én teleurstelling"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*