DEUR ’n bydrae van tussen R100 en R250 vir ’n besonderse voedseltuinprojek in die Klein Karoo te maak, staan iemand die kans om ’n oorspronklike olieverfskildery van die bekende kunstenaar Lisl Barry te wen.
Barry het dié kompetisie met een van haar besonderse skilderye as prys geloods om te help verseker dat Klein Karoo Connect (KKC) se voedseltuinprojek, wat verlede jaar suksesvol geloods is, kan voortgaan en uitbrei.
Die kompetisie se sluitingsdatum is 15 Februarie 2021, en al die geld wat ingesamel word, sal vir voedseltuine aangewend word. Die wenner sal deur ’n gelukkige trekking bepaal word.
Só werk die voedseltuinprojek
Klein Karoo Connect, ’n nie-winsgewende organisasie, het verlede jaar saam met verskeie rolspelers en besighede kos en ander noodsaaklik- hede tydens die Covid-19-grendeltydperk aan honderde mense voorsien.
Die sukses van gemeenskaplike voedseltuine soos Spensplaas buite De Rust, het Klein Karoo Connect geïnspireer om hul eie gemeenskaplike volhoubare voedseltuinprojek in 2020 te loods.
Danksy ’n plaaslike besigheidsman Johan van der Westhuizen en ander vrywilligers en besighede is die eerste volhoubare groentetuin op een ha grond wat deur Henry en JP van der Westhuizen van JW Saad beskikbaar gestel is, geplant
“Die eerste groente is in Desember suksesvol geoes. Vrywilligers werk tans hard om die groente by sopkombuise en plaaslike gemeenskappe waar daar behoefte is, te kry. Die groente word in si-klusse aangeplant om te verseker dat daar altyd groente beskikbaar is,” sê Johan.
Hans van der Veen, voorsitter van Klein Karoo Connect, is baie opgewonde oor dié aanvanklike sukses, maar sê meer sal nog gedoen moet word om die langtermyn-sukses van die inisiatief te verseker. “Op die oomblik doen ons handjievol vrywilligers hul bes om die groentetuine aan te plant, te bewerk, die groente te oes en dit as kos op honger mense se borde te kry, maar ons het hulp nodig, veral as ons die projek na meer tuine wil uitrol in die toekoms.
“Deur vir die kompetisie in te skryf, kan almal help om ’n verskil te maak,” sê hy.
Skryf so in en maak ook ’n verskil
Mense kan ’n finansiële bydrae tot die voedseltuine lewer deur vir die kompetisie in te skryf deur Lisl Barry se webtuiste (www.lislbarry.co.za) te besoek, of andersins haar Facebook-blad of Instagram-blad. Een inskrywing is slegs R100, twee inskrywings R180 en drie inskrywings R250.
Enigeen kan inskryf en die wenner se skildery sal per koerier gratis na enige adres in Suid-Afrika versend word. Die onafhanklike gelukkige trek-king sal ná die sluitingsdatum gedoen word.
Die wenner sal uit vyf oorspronklike olieverfskilderye van Lisl Barry een kan kies. Die skilderye sluit twee Karoolandskappe in, asook twee studies met lig – een met ’n kameelperd en die ander ’n opwaartse blik deur boomtoppe. Die vyfde skildery is ’n meer abstrakte studie van vloeiende seewater.
“Ek hoop dat ek deur my werk mense sal aanmoedig om meer betrokke te raak by gemeenskapsinisiatiewe soos die voedseltuine en om self ook meer volhoubaar te leef. Klein Karoo Connect doen wonderlike werk en gee so baie van hulself om honger plaaslik te help verlig.
“Jy kan nou ook ’n verskil maak. R100 is skaars genoeg om vir een persoon ’n maaltyd by ’n restaurant te koop. Vir dieselfde geld kan jy help om honderde mense op ’n volhoubare manier te voed,” sê Lisl. Al die inskrywingsgeld wat deur die kompetisie gegenereer word, sal aangewend word vir die voedsel- tuininisiatief. (Deur Louise Venter)
Help só om meer voedseltuine aan te lê en wen dalk ’n skildery!
Lisl Barry by van haar skilderye. Een van vyf skioderye kan gewen word vir ’n bydrae van so min as R100 vir ’n voedseltuinprojek vir mense in nood. Foto: Hans van der Veen