Deur Ilze-Mari Gründling
“PROJEK KOLGANS is baie gewild en ons kry goeie terugvoer. Ons het al heelwat ou weermagvriende daardeur bymekaar gekry,” sê ao Johann du Preez, ondervoorsitter van die SA Weermagvereniging. Hy het met dié projek vorendag gekom om militêre veterane, vriende en hul eggenotes oor gereelde ontbytbyeenkomste te herenig en so weer ou vriendskappe te hernu.
Volgens Jaco Steenberg, sektor-ondervoorsitter op Oudtshoorn, is die heel eerste Projek Kolgans-ontbyt in Suid-Afrika verlede jaar in Junie op Oudtshoorn gehou.
“Daar was 19 veterane en hul gades teenwoordig. Daarna is dit van Augustus tot Desember maandeliks gehou. Vanjaar vind die ontbyte elke tweede Saterdag van die maand plaas.”
Daar is tans 53 lede wat deel is van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging op Oudtshoorn.
Steenberg sê enige veteraan en sy gesin kan saam ontbyt kom eet.
“Veterane is welkom. Ons wil juis veterane ophef en betrokke raak in ons gemeenskap.”
Van die projekte waarby die SA Weermagvereniging tans betrokke is, sluit in kerkparades en geestelike projekte asook Projek Gompou,wat geloods is om veterane te ondersteun met posttraumatiese stres.
Vir enige navrae oor die etes op Oudtshoorn, kan Steenberg by sel 073 204 6066 gekontak word.