Bring hoop vir kwesbare kinders in Oudtshoorn

By die Scrosoppi Sorgentrum in Oudtshoorn vind kinders wat op die strate rondgeswerf het, ’n veilige plek waar hulle die dag deur aktiwiteite besig gehou word en die nodige ondersteuning kry onder sorgsame toesig.

Hierdie inisiatief vorm deel van ’n program wat daarop gemik is om kwesbare kinders tydelik te beskerm en vir hulle ’n gestruktureerde en veilige dag te bied. Daar is reeds ’n vaste groep kinders wat die sentrum daagliks bywoon.

Die sentrum bied nie net ’n veilige ruimte nie, maar ook aktiwiteite wat die kinders se fisiese, emosionele en sosiale welsyn bevorder. Die program werk ook saam met ouers en gesinne om te verseker dat die kinders se dagstruktuur volhoubaar is en dat hulle in die gemeenskap kan funksioneer.

Hierdie inisiatief is die resultaat van maande se samewerking tussen verskeie departemente, gemeenskapsorganisasies en plaaslike leiers. Rolspelers sluit die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, SAPD, ACVV, die Departement van Gesondheid en Welstand, die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en die plaaslike toerismekantore in.

Saam werk hulle om ’n volhoubare oplossing vir die uitdagings van kinders op straat te ontwikkel.

Tog benodig die sentrum steeds ondersteuning van die gemeenskap. Dringend nodige items sluit in nie-bederfbare kos soos melk, suiker, kitspap, sopbestanddele, tee en koffie, sowel as toiletware soos sjampoe, tandepasta, tandeborsels, seep en waslappies. Elke bydrae, hoe klein ook al, help om hierdie kinders ’n veiliger en gesonder omgewing te bied.

Skenkings kan afgegee word by die toerismekantoor, 80 Voortrekkerweg. Besighede en inwoners wat betrokke wil raak, kan die kantoor kontak by info@oudtshoorn.com.

Hierdie projek wys wat gemeenskappe kan bereik wanneer hulle saamwerk om die kwesbaarstes te beskerm.