Die 30ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het Saterdag tot ’n einde gekom, en volgens die organiseerders was dit ’n fees om te onthou – vol kuns, kultuur, saamkuier en onvergeetlike oomblikke.
In ’n plasing op sosiale media het die KKNK-span hul opregte dank uitgespreek aan almal wat die fees moontlik gemaak het – van kunstenaars en borge tot tegniese spanne, vrywilligers en natuurlik die duisende feesgangers wat weer Oudtshoorn se strate laat lewe kry het.
“Dankie dat julle die 30ste KKNK so spesiaal gemaak het,” lui hul boodskap, waarin hulle beklemtoon dat die fees se sukses gebou is op samewerking en ’n gedeelde liefde vir die kunste.
Die afgelope week het Oudtshoorn weer gewys waarom dit as die hart van die Afrikaanse kuns- en kultuurwêreld beskou word.
Van uitverkoopte teaterproduksies en musiekoptredes tot visuele kuns-uitstallings en straatvermaak – daar was iets vir elke smaak.
Hoogtepunte van vanjaar se fees het onder meer die groot verhoogproduksies, die lewendige feesterrein en die visuele kunsprogram ingesluit wat, volgens terugvoer, besonder goed ontvang is.
Die Hoorn het ook by verskeie produksies ’n draai gemaak, van komedie, kindervermaak tot meer ernstige toneelspel wat die hartsnare geroer het.
Wanneer dit bietjie warm geraak het – het die span gaan afkoel by die ABSA kuierkamer en daarna weer die pad gevat na die musiekverhoë om aanhangers vas te vang terwyl hulle luidkeels saam met hul gunstelingsangers gesing het.
Bekende name in die bedryf het weer hul stempel afgedruk, terwyl nuwe talent ook die geleentheid gekry het om te skitter. Selfs die reën wat oor Oudtshoorn uitgesak het, kon nie die gees en lekker saamkuier demp nie.
Buiten die verhoë het die fees ook ’n tasbare ekonomiese en sosiale impak op die dorp gehad, met restaurante, stalletjies en plaaslike ondernemings en verblyf wat voordeel getrek het met die talle besoekers wat na die dorp toe gekom het.
Met drie dekades agter die rug, bly die KKNK ’n bewys van die krag van kuns om mense bymekaar te bring. (ANGELIQUE ERASMUS)
