101 jaar gevier!

Frances de Klerk op haar verjaarsdag. Foto verskaf

’N INWONER van die Oudtshoorn Aftreeoord, Frances de Klerk, het Dinsdag (22 September) haar 101ste verjaardag gevier!

Frances, wat tot op 70 jaar as haarkapster op Robertson gewerk het, het na haar aftrede na Oudts­hoorn verhuis om naby haar suster, Cecile Uys, te wees.

Volgens ’n mede-inwoner in die oord, Beatrix Rademeyer, is Frances lief vir pottebakkery en skilder, en was sy deel van ’n groep wat mosaïekwerk in die NG Kerk Robertson gedoen het. Sy spog met provinsi­ale erkenning as amateur-dramaturg in die Boland-streek en het gereeld nasionaal en internasionaal gereis. Frances is voorts volgens Beatrix geseën met ’n goeie humorsin.

Sy is die ma van twee seuns wat onderskeidelik in Gansbaai en in Denver, Colorado (VSA) woon.