Man wat by broer se huis inbreek vir geld skuldig aan huisbraak

’N MAN van Bridgton op Oudts­hoorn wat by sy broer se huis ingebreek en vir geld gesoek het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan huisbraak met die opset om te steel skuldig bevind.

Hy is vyf jaar gevangenisstraf ingevolge Artikel 276 (1) (i) opgelê.
Die 29-jarige Denzil Boesak het skuldig ge­pleit op die klagte dat hy op 18 Desember 2019 by die kamervenster van sy broer, Max­well Boesak, ingeklim het terwyl hulle geslaap het.

Hy het erken dat hy op soek was na geld. Terwyl hy besig was om geld te soek, het iemand in die huis wakker ge­word en hom herken.

Hy is toe weer deur die kamervenster na buite en het op die vlug geslaan.
Boesak het ook tereg gestaan op ’n klagte van seksuele aanranding, maar dié klagte is deur die staat teruggetrek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging in ag geneem dat Boesak skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors het nie.

Hy het ook berou getoon oor wat hy gedoen het.

Hy kan na die uitdiening van ’n sesde van sy vonnis, dit wil sê na tien maande, om parool aansoek doen. (Deur Garnett Wicomb)