Lede van die koningsgesin wat in 1947 in die Queen’s Hotel tuisgegaan het.

Die Prince Vintcent-gebou in die ou dae.
Deur Ilze-Mari Gründling
Baron van Reedestraat op Oudtshoorn is die hooftoerismeroete op Oudtshoorn. ’n Gedeelte van die straat, met al Oudtshoorn se hotelle asook ’n paar gastehuise en verskeie restaurante, staan om dié rede as die Goue Myl bekend.
Die straat is ook die begin van die roete na die skilderagtige Schoemanshoek en die wêreldbekende Kango Grotte.
Daar is ’n hele paar historiese geboue in hierdie straat, met die bekendste sekerlik die CP Nel Museum, die Queen’s Hotel en die Prince Vintcent-gebou. Die Queen’s Hotel, wat uit 1880 dateer, is sover bekend die derde oudste hotel in Suid-Afrika. Die hotel is oor die jare verskeie kere opgegradeer.
Twee argitekte het kort na die eeuwending op Oudtshoorn kom werk, in 1903 die Brit Charles Bullock en in 1907 die Hollander Johannes Egbertus Vixeboxse. Een van hul eerste projekte was ’n “moderne” skoolgebou in Baron van Reedestraat (voorheen Queen Street). Die gevolg was die gebou wat destyds die Boy’s High School gehuisves het. Vandag huisves dit die CP Nel Museum. Die gebou is in die laat Viktoriaanse koloniale styl gebou.
As dit nie vir die versiendheid van oud-leerders (alumni) van die skool was nie, sou die gebou in 1963 gesloop word as gevolg van die swak toestand daarvan. ’n Petisie deur die alumni het egter die gebou gered. Die Departement van Onderwys het die gebou aan die Oudtshoorn Munisipaliteit verkoop en dit is vernoem na kol CP Nel, wat ’n versameling oudhede vir die vestiging van ’n museum geskenk het. Die versameling was voorheen in ’n gebou in Hoogstraat naby die Le Roux Dorpshuis wat as die museum gedien het. Die CP Nel Museum is toe amptelik in 1972 geopen. In 1979 is die gebou as ’n nasionale monument verklaar en vandag is dit ’n Provinsiale Erfenisgebou.
In die daaropvolgende jare het onder meer Bullock se firma verskeie “volstruispaleise” ontwerp en gebou. Die art-nouveau-invloed was sigbaar in dié huise, wat meestal met standsteen gebou is.
Baron van Reedestraat huisves ook vele ander historiese geboue, onder meer Montague House, die Presbiteriaanse Kerk, St Jude’s Complex, Gottland Huis, die Joodse Sinagoge, Oakdene Gastehuis, Mimosa Lodge en die ou Oudtshoorn Gevangenisgebou. Die huis te Baron van Reedestraat 146, wat in die 1860’s gebou is, het aan mej Hudson, goewernante van Pauline Smith, behoort. Smith het onder meer Stories of the Little Karoo geskryf. Die huis, op die hoek met Victoriastraat, huisves vandag De Oude Kat Restaurant.
Die argitek Watson Hall het die Prince Vincentgebou ontwerp en in 1914 voltooi. Die gebou het in ’n stadium een van die grootste algemene handelaars in die land gehuisves.
Maurice Lipshcitz, ’n welvarende Joodse smous, wat in 1880 na Suid-Afrika gekom het, het Montaguehuis in die 1890’s laat bou. Die huis is na sy oudste seun, Montague, genoem en die argitek was Wiener, wat baie bekend was in Transvaal.
Behalwe vir sandsteen, is alle ander boumateriaal, soos marmervloerteëls, marmerkaggels met handgeskilderde Italiaanse keramiekteëls en mahonie- en kiaathouthout vir muurpanele, ingevoer.
Die marmerbad in Montaguehuis was destyds die grootste bad in Suid-Afrika en kon 1600 liter water vat. Trappe was nodig om in die bad te klim! In die huis se spens is ’n trap wat na die wynkelder lei. Die huis was so groot omdat Lipshcitz en sy vrou, Leah, tien kinders gehad het. Montaguehuis was destyds ’n bymekaarkomplek vir kulturele bedrywighede. Die huis het ook ’n teater en balsaal gehad met plek vir 100 mense. Daar is vandag ’n restaurant en gastehuis in Montaguehuis.
Die Queen’s Hotel is in 1880 opgerig en die oorspronklike gebou is met standsteen gebou en het ’n grasdak gehad! Dit het aanvanklik aan ene Joseph A. Ford behoort.
Die derde eienaar, John Bawden, was ’n bekende op Oudtshoorn. Hy was ’n Ier wat in 1856 na die dorp gekom het. Die hotel het sy naam gekry na aanleiding van “The Queen’s Medal” wat aan Bawden toegeken is nadat hy aan die hoof gestaan het van tuisverdediging op Oudtshoorn tydens die eerste Anglo Boere-oorlog in 1880 en 1881.
Die hotel se eerste swembad het op 2 November 1893 geopen en sedert 20 September 1900 moes ’n mens betaal om daar te swem.
Gedurende 1910 het Vixeboxse nog verbeteringe aan die hotel aangebring. Bawden het die hotel tot in 1913 tot kort voor sy dood bestuur.
Die Britse koninklike familie het Oudtshoorn al twee keer besoek – in 1925 en 1947. Tydens een van hul besoeke het hulle in die hotel tuisgegaan.
Die hotel het vandag nog elegante kenmerke uit die koloniale tydperk.
In die 1800’s, voor die tyd van die binnebrandmasjien, was daar ’n groot vraag na waens en perdekarre. Twee broers, James en William Deas, het in 1875 op die erf te Baron van Reedestraat 452 (waar Xenia Kafee nou is) ’n wamakery begin wat gestrek het tot teenaan die Grobbelaarsrivier in die omgewing van die hangbrug.
Die twee het in 1853 saam met hul ouers van Skotland na Suid-Afrika verhuis en albei het op Oudtshoorn skoolgegaan en die grofsmidambag geleer. Hul besigheid, die Gebroeders Deas Wamakery, was een van die suksesvolste ondernemings van sy soort in Kaapland. In ’n stadium was daar nege wamakerbesighede op die dorp!
Ondanks verskeie pragtige ou geboue wat oor die jare afgebreek is, bied Baron van Reedestraat met sy ryk geskiedenis steeds baie om te sien.
Bronne: Danke aan Hazel Jonker en die C.P Nel Museum personeel; www.seligman.org.il/oudtshoorn_history.html, en www.oudtshoorninfo.com.

Inwoners by een van die gereelde sosiale geleenthede in die Queen’s Hotel in Oudtshoorn se vroeër dae.

Een van die bekendste geboue op Oudtshoorn – die CP Nel Museum in Baron van Reedestraat. (Foto verskaf deur die CP Nel Museum)

Baron van Reedestraat in die ou dae! Hier is die Queen’s Hotel in Queenstraat, deesdae Baron van Reedestraat, in 1906. John Bawden was toe die eienaar van die Queen’s Hotel. Foto verskaf deur die CP Nel Museum op Oudtshoorn