Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen die voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, Johan Brits, wat op 23 klagtes van bedrog en twee van die oortreding van die wet op drankprodukte skuldig bevind is, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof voorlopig tot Septembermaand uitgestel.
Volgens die staatsaanklaer, adv Louis van Niekerk, is die langverwagte oorkonde wat voorberei moes word vir ’n hooggeregshof-hersieningsaansoek van Brits, eers verlede week aan die staat en die verdediging verskaf.
Van Niekerk sê daar sal eersdaags sekerheid wees oor wanneer Brits se aansoek om hersiening van sy skuldigbevinding in die Hooggeregshof aangehoor sal word.
Brits beweer onder meer in sy aansoek dat ontoelaatbare of onbevoegde getuienis toegelaat is en toelaatbare of bevoegde getuienis verwerp is. Die saak is voorlopig tot 22 September 2017 uitgestel.