DIE Oudtshoorn Hospitaal bied op 13 Julie ’n gratis besnydenisdiens vir seuns en mans aan.
Volgens Zolani Barnes, progambestuurder van die Tuberkolose en MIV-versorgingsvereniging verminder manlike besnydenis ’n MIV-negatiewe man se kanse met 60% om die siekte te kry.
As gevolg hiervan, poog die nasionale Departement van Gesondheid om 4,3 miljoen mans tussen 15 en 49 jaar oud gratis voor die einde van vanjaar medies te laat besny.
Behalwe vir die verminderde kans op seksueel oordraagbare infeksies, verminder die besnydenis ook die risiko van servikale kanker vir vroulike maats.
Die assosiasie word deur die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid as ’n diensverskaffingsvennoot erken.
Al die personeel wat die prosedure uitvoer, is gekwalifiseerde mediese personeel wat gespesialiseerde, gestandaardiseerde opleiding in mediese manlike besnydenis ondergaan het.
Die diens is gratis en vervoer na die hospitaal sal beskikbaar wees.
Seuns onder agtien wat die prosedure wil laat doen, benodig skriftelike toestemming van ’n ouer of wettige voog.
Die ouer of voog moet die seuns na die hospitaal vergesel met dokumentasie wat hulle wettige voogdyskap bevestig.
’n Afskrif van hul identiteitsdokument, ’n afskrif van die minderjarige se geboortesertifikaat en ’n huweliksertifikaat indien hul naam op enige dokument anders is, moet ook saamgeneem word.
Vir navrae kontak Matilda Lottering of Jeney Daniels, Siya Mdalo of Jollen Andries by die Oudtshoorn Hospitaal (044 203 7200) of besoek jou naaste kliniek op Oudtshoorn.