Van die kinders wat die Erfenis- en Kultuurfees geniet het. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE jaarlikse Erfenis- en Kultuurfees van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) wat op 24 September vir die 9de jaar op die Bridgton Sportgronde aangebied is, was weer eens ’n baie suksesvolle een, en daar is reeds begin met die beplanning van volgende jaar se 10de wat beloof om nog groter en beter te wees.
So sê Philllip Seroux, projekbestuurder van die forum.
“Ten spyte van die ekonomie wat maar oral druk, het ons weer goeie ondersteuning van verskeie rolspelers, vennote en borge ontvang om jongmense se dag vir hulle op te helder en ons erfenis te vier.”
Die dag se verrigtinge het afgeskop met ’n optog gelei deur senior burger-trompoppies en ’n brigade-orkes teen geweld teen vroue en kinders.
Hierna het die aksie op die sportgronde begin met sewesrugby, sokker, skaak, ’n dominokompetisie, bordspeletjies, Uniondale se rieldansers, die Dare to Care-trompoppies, Dixi Dev van African Bank Johannesburg en talle ander aktiwiteite.
Die gewilde kulkunskunstenaar, Jannie de Bruin, het weer groot getalle kinders sowel as volwassenes vermaak.
Volgens die voorsitter van die forum, Johnny Baartman, is die organisasie nege jaar gelede gestig met die doel om ’n verskil te maak in die lewens van jongmense deur gereeld programme aan te bied om die jeug besig te hou.
“Ons is baie suksesvol met alles wat ons aanpak en groot dank aan ons Hemelse Vader te danke.
“Ons is ook daarvoor beloon toe die OCJF vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar Eden se toekenning van Rekreasie-instansie van die Jaar losgeslaan het.”
Die gemeenskapsradiostasie, Eden FM, het regstreeks vanaf die fees uitgesaai.
Seroux het sy dank uitgespreek teenoor onder meer Klein Karoo International, die Oudtshoorn Munisipaliteit, Korrektiewe Dienste, Departement Maatskaplike Ontwikkeling, SWD Rugby, Kindersorg, die CP Nel Museum, Famsa Oudtshoorn asook die SAPD.
Die forum se laaste groot funksie van die jaar is sy jaarlikse prysuitdelingsfunksie in November waarvoor mense reeds ’n tafel vir tien kan bespreek.
Volgende jaar se Erfenis- en Kultuurfees sal volgens Seroux oor ’n naweek (24 tot 27 September 2020) plaasvind en ook as ’n fondsinsamelingsprojek gebruik word.
Seroux kan vir meer besonderhede by 079 987 9486 gekontak word.