
De Jager Primêr, ‘n skooltjie wat vir die afgelope 59 jaar die gemeenskap van Buffelsdrift buite Oudtshoorn bedien, het Saterdag (29 April) ‘n groot reünie van leerders wat oor die jare heen daar skoolgegaan het, sowel as huidige leerders, gehou. Onder andere was huidige Oudtshoorn Munisipaliteit raadslid, Abraham Tiemie, ook teenwoordig. Hy het sy ondervinding van sy tyd by die skool gedeel. Oud-prinsipaal Harold Dawid Rhodes (bo) het staaltjies uit die verlede vertel, soos onder meer oor die skool se sportsterre en hoe leerders in die verlede in ’n ry moes staan om kos en water te kry. Ook oor rugbyspelers en atlete wat van hierdie skooltjie af nasionale kleure ontvang het.
Hy het die maagspiere van die teenwoordiges behoorlik “gerek” met sy staaltjies. Volgens Marilyn Blaauw, oud-leerder, het die dag se feesvieringe meer oor die gemeenskap gegaan. “Die Buffelsdrift-gemeenskap is meer soos ’n familie as bloot net ’n gemeenskap,” het sy gesê. Sy het veral die huidige prinsipaal, Leonie Rabie, vereer, en ook oud-leerlinge Adriaan en Joseph Oosthuizen wat baie tyd en moeite belê het om die geleentheid ’n moontlikheid te maak. Oud-leerlinge uit onder meer Kaapstad en Mosselbaai het die reünie meegemaak. Die dag is verder feestelik gemaak vir die huidige leerders met speletjies en sang. Foto’s: Stefan Skapie Goosen