Oudtshoorn Dogs in Need loods nuwe inisiatief op Oudtshoorn

Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, Dinsdag aan die woord by die bekendstelling van Oudtshoorn Dogs in Need se toekomsplanne. Foto: Liesel le Roux
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE dierewelsynorganisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) het Dinsdagaand hul planne vir die toekoms amptelik bekend gestel by ’n openingsaand, gehou by die woning van die bekende binnehuisversierder David Strauss.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, raadslede George Kersop, Hendrik Ruiters en Johan Fourie, asook talle diereliefhebbers van Oudtshoorn het die geselligheid bygewoon.
Sylvester het tydens sy toespraak ODIN geloof vir hul toekomsplanne.
“Diere het nie stemme nie, daarom moet ons alles in ons vermoë doen om vir diere te sorg en te help waar ons kan.”
Hy het aangedui dat die tenderproses vir die nuwe munisipale skut hopelik einde Desember afgehandel sal wees.
Volgens Colleen Smith van ODIN beoog dié diereorganisasie om volgende jaar, wanneer die DBV beheer van die Oudtshoorn Diereskut oorneem, as onafhanklike diereorganisasie vanaf sy eie perseel te begin werk.
ODIN is tans behulpsaam by die Diereskut. “ODIN het besluit om alleen groot te gaan. Ons sal saam met die Tuinroete DBV werk wanneer hulle die diereskut volgende jaar oorneem, maar sal ’n onafhanklike reddingsorganisasie bly,” sê Smith.
“Ons is besig om ’n groot stuk grond naby die huidige skut te bekom. Dit sal meer toeganklik wees en meer speelplek vir die diere bied.”
Volgens Smith beplan die groep ook ’n basiese kliniek saam met plaaslike veeartse, ’n koffiewinkel, tweedehandse winkel, dierehotel, en selfs ’n crèche waar diere bedags kan bly.