Kosskenking vir die diere

Oorstelp van blydskap, Vanessa Engelbrecht by van die kosskenkings wat ACT ontvang het. Foto verskaf

Die trane het vlak gesit, toe Vanessa Engelbrecht van ACT (Animal Care Team), ’n donasie van 4 ton katte- en hondekos ontvang het.

Engelbrecht het vroeër vanjaar vir Irene Ferreira, van Bob Martin Suid-Afrika gekontak oor ’n moontlike donasie vir hulle jaarlikse Dieredag in Oktober vanjaar.

“Toe ek die e-pos kry dat hulle vier ton kos gaan borg was ek stomge-slaan, en moes die e-pos verskeie kere deurlees om seker te maak dat ek nie droom nie,” vertel sy opgewonde.

Sy het hulle selfs gebel om te vra of hulle nie ’n fout gemaak het nie, omdat hulle totaal verslae was oor die groot skenking wat hulle ontvang. Met die donasie was die vervoer natuurlik ’n groot uitdaging, omdat die kostes meer as R10 000 sou beloop om die kos in Oudtshoorn te kry.

Na verskeie oproepe, het rolspelers hand opgesteek, en tussen die PDSA, Eden FM en Die Oudtshoorn Groentemark het hulle die kos in Oudts-hoorn gekry, asook stoorplek vir al die kos.

“Aan Bob Martin SA kan ons nie genoeg dankie sê vir hierdie ongelooflike donasie nie, julle is ons helde. Ook aan elke besigheid, organisasie en persoon wat gehelp het om die kos te gaan haal, koerier en stoor, ons is ongelooflik dankbaar vir julle,” sê Engelbrecht.

ACT het reeds die kos begin uitdeel aan persone wat ’n groot behoefte het aan kos vir hul diere asook plaaslike diere-organisasies soos The Cat Hotel, Oudtshoorn Diereherberg, Friends of Calitzdorp-diere organisasie, en die Oudtshoorn Munisipale Skut.

Van die kos sal ook gebruik word om die wilde katte wat deur ACT versorg word, te voer.

Om deel te raak van enige toekomstige projekte, of om ’n donasie te gee, kontak gerus vir Vanessa Engelbrecht by 082 927 7276 vir meer inligting of hoe jy kan help. (ANGELIQUE ERASMUS)