Twee generasies deel hul liefde vir perde

Lindi Wannenberg met die merrieperd Kanna Zilla, haar pa Piet, ouma Johanna Hodgson, ma Helandi en boet PJ met sy reunperd Stenco Baska, na hul deelname aan die Graaf-Reinet uithourit. Foto: Johanette Photography

Die volgende generasie Wannenburgs volg in die voetspore van hul pa.

PJ (12) en Lindi (10) Wannenburg het die naweek by Graaff-Reinet aan ’n uithourit deelgeneem. Hul het saam met hulle pa Piet Wannenburg, ’n ervare perde-uithouritruiter en bekende in die uithouritgemeenskap gery.

PJ het sy tweede novice 40 km Vrydag suksesvol voltooi en Lindi haar eerste 40 km Saterdag.

“Lindi het ons Saterdagoggend 03:00 al wakker gemaak om die perde se hare te gaan vleg, alhoewel ons eers 06:40 moes wegtrek. Sy was net te opgewonde om te ry,” vertel Piet.

Volgens hom het Lindi ook net besluit dat sy nie tot volgende jaar gaan wag om te begin ry, nadat haar boetie vroeër die jaar by ERASA (Endurance Ride Asso-ciation of South Africa) geaffilieer is nie.

“Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om saam met my kinders te kan perdry, en lekker om spesiale herinneringe saam met hulle te maak,” sê hy.

Piet het ook op 10-jarige ouderdom begin uithouritte ry, en het op 16 Protea-kleure vir die sport gekry. In 1997, is die eerste Oudtshoorn Uithourit op hul plaas, Rooirivier, buite De Rust gehou.

Volgens uithouritreëls, moet beginner -ruiters twee 40 km-ritte aflê en daarna twee 80 km-ritte voordat hulle kan begin kompeteer. Hierdie afstande het ook ’n spoedbeperking waar ruiters nie vinniger as 16 km per uur mag ry, of korter as 2 ure en 30 minute ry nie.

Hulle moet tot op 14-jarige ouderdom saam met ’n senior ruiter ry (18 jaar en ouer).
Volgens Charmaine Nickisson, algemene bestuurder van ERASA (Endurance Ride Association of South Africa), is dit vir haar ’n riem onder die hart as kinders die sport saam met hulle ouers kan geniet. “So leef ons sport voort, asook die liefde, vertroue en respek tussen ruiter en perd,” sê sy.

Antoinette Birch, organiseerder van die Graaff-Reinet rit, het laat weet dat die kinders se ry-etiket en vriendelike maniere deur die Oos-Kaap raakgesien is. “Ons was mal daaroor om hulle by ons rit te hê,” vertel sy.

Albei kinders is leerders by Laerskool Wesbank. (ANGELIQUE ERASMUS)